Potch_NWU

Shaun Christie-dissiplinêre verhoor begin môre

Die dissiplinêre verhoor van Shaun Christie, ’n senior student van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat in Februarie geskors is na aanleiding van sy openbare beswaar oor die inhoud van ’n oriënteringsessie vir eerstejaarstudente, begin môre (12 Maart) in Potchefstroom.

AfriForum Jeug se regspan sal Christie tydens die verhoor verteenwoordig. Die jeugorganisasie staan Christie reeds sedert sy skorsing op sy versoek by.

Die verhoor sal na verwagting minstens drie dae lank duur. Luidens die klagstaat word Christie van vyf onderskeie aanklagtes van wangedrag aangekla.

Volgens Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder, was ’n LGBTQIAP +-vereniging die enigste wat as deel van die amptelike eerstejaarsprogram toegelaat is om ’n sessie aan te bied. “Dié besluit van die NWU-bestuur het ’n geleentheid vir ontevredenheid geskep, maar nou word Christie gekasty omdat hy opgestaan het vir dit waarin hy glo,” meen Peters. “Ons vertrou egter dat die onafhanklike voorsitter van die dissiplinêre verhoor objektief na elke faset van Christie se saak sal kyk en ook Christie se grondwetlike reg tot vryheid van uitdrukking sal oorweeg.”

Christie se tydelike skorsing is op 13 Februarie gedeeltelik opgehef wat hom sedertdien toelaat om weer akademiese verrigtinge op die kampus by te woon.