Foto 2
| DeurAfriForum

Universiteit van Pretoria erken hul beleide is rassisties

Die Universiteit van Pretoria (UP) het vandag erken dat hulle beleide rassisties is en hulle wil die inligting van hierdie rassistiese beleide van hul studente weerhou. AfriForum Jeug sou vandag plakkate, wat inhoud uit ’n omvattende verslag oor die stand van nierassigheid aan Suid-Afrikaanse universiteite bevat, by die UP kampus opgesit het. Dr Willem Jorissen, waarnemende dekaan van studentesake, het egter die plakkate afgekeur omdat dit glo aan rassisme grens. Die plakkate ontbloot die bevindinge van AfriForum Jeug se verslag, naamlik dat die rassebeleide wat tans by dié instelling geld ’n geweldige omvang en verreikende implikasies het.

“Rasseklassifikasie lei onomwonde tot rassediskriminasie. As ’n Tukkies-student wou ek graag die AfriForum Jeug-verslag, getiteld The status of non-racialism at South African universities, onder die universiteitsbestuur se aandag bring, maar dit blyk nou asof hulle goed bewus is van die rassistiese beleide en dit boonop wil beskerm. Die plakkate sou ook die doel dien om vir studente, wat die reg het om te weet, van die rasmalheid bewus te maak, sodat ons druk kan toepas om werklike nie-rassige beleide by Tuks te kan hê,” sê Maree van den Berg, lid van AfriForum Jeug se Tuks-tak.

AfriForum Jeug het in Maart vanjaar aan al 26 openbare universiteite ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) gestuur om duidelikheid oor hul rasseklassifikasie-beleide te kry. Die antwoorde is in ’n verslag uiteengesit wat die elemente van nierassigheid aan dié instellings ondersoek, en beleidsvoorstelle is deur die jeugorganisasie gemaak om te verseker dat die universiteitsbeleide werklik nierassig is.

“Tuks se erkenning dat hul beleide rassisties is kom op ’n onstuimige tyd op kampus, veral met die EFF Student Command van die UP wat onlangs weer rassespanning op die Tuks-kampus aangevuur het. AfriForum Jeug moedig die publiek aan om ons petisie te steun om die universiteitsbestuur, wat tot op hede apaties was, te dwing om die EFFSC UP as studentevereninging te deregistreer. Gaan na www.skorseff.co.za,” se René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het plakkate ontwerp wat inligting ten toon stel wat in die UP se beleide vervat is, byvoorbeeld dat voornemende studente, wat nie hul ras wil klassifiseer tydens die aansoekproses nie, se aansoeke as onvolledig beskou word, asook die feit dat die UP tien beleidsdokumente het wat na ras verwys.