ivan-aleksic-PDRFeeDniCk-unsplash
| DeurAfriForum

MRK se “diversiteitsopleiding” in skole is ideologiese indoktrinasie

AfriForum Jeug is van voorneme om die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se voorgenome “diversiteitsopleiding” in skole teen te staan. Dié teenstand is nie bloot weens die feit dat personeel en tyd in die roosters ontbreek nie, maar ook dat hierdie “opleiding” niks anders as ideologiese indoktrinasie van kinders is nie.

Die MRK beweer dat hierdie “opleiding” nodig is om rassisme te beveg. Tog het dieselfde MRK vroeër in ’n uitspraak bevind dat dit nie haatspraak is as Julius Malema geweld teen minderhede romantiseer nie, omdat hy swart is en omdat swart mense (in die MRK se ontleding) nie aan dieselfde standaarde as wit mense gemeet kan word nie.

“Wanneer dit by rassisme kom, is die Menseregtekommissie deel van die probleem, nie die oplossing nie. Ons kan nie toelaat dat kinders met hierdie soort ideologiese aktivisme geïndoktrineer word nie,” het René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug gesê.

Fatima Chohan, adjunkvoorsitter van die MRK, het vroeër by ’n mediakonferensie (13 Julie) gesê dat, “’n mens moet onthou diskriminerende beleid is honderde jare toegepas tot op die punt dat dit kultureel vasgegiet is.” Dit is maar een van die tekens wat vir AfriForum Jeug aandui dat daar ’n spesifieke ideologiese ondertoon by hierdie skoolvak sal bestaan.

“Chohan se opmerking wys dat hierdie skoolvak gebou sal word op dubbele standaarde, soos dat rasissme ‘kultureel vasgegiet’ is. Die vooruitsig dat die skoolvak waardering sal ontwikkel vir ander se kulture en tradisies klink rooskleurig, maar ongelukkig het ons oor die afgelope drie dekades geleer dat die regering net een sogenaamde “ANC-kultuur” waardeer,” sê Van der Vyver. Volgens die jeugorganisasie is skole en ideologiese opleiding nie ’n plek waar die staat moet inmeng nie.

“Suid-Afrikaanse skoliere sal nie diversiteitsopleiding nodig hê as die staat ’n kultuur skep waarin daar erkenning en respek vir mekaar se verskillende gemeenskappe is nie. Vir dit om te slaag moet die staat toelaat dat skoliere onder andere toegang tot moedertaalonderrig mag hê en moet dit nie ’n reg wees waarvoor mense die heeltyd moet veg, soos wat die Afrikaanse gemeenskap al vir jare ondervind nie,” sluit Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, af.