NWU-Pukke-2
| DeurAfriForum

Afrikaans moet op PUK bly

AfriForum Jeug het vandag ’n brief aan dr. Bismark Tyobeka, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) op die Potchefstroom-kampus (PUK), oorhandig. Dié jeugorganisasie voel genoodsaak om fisies ’n brief te oorhandig waarin hulle sterk standpunt inneem dat ’n toekoms vir Afrikaans op die PUK verseker moet wees, nadat ’n ondersoek van die universiteit se beleidsdokumente blootlê dat ’n radikale transformasiebeleid ’n integrale deel van hul kernbeleid is.

Streng rasteikens in die NWU se aanstellingsproses en ’n taalbeleid wat ’n statutêre liggaam in staat stel om tydens enige akademiese jaar, in enige kwalifikasie of module, ’n taal voor te skryf wat van toepassing is op alle kampusse, dui aan dat die PUK besig is om onder die dekmantel van transformasie, Afrikaans teen ’n snelle spoed uit te werk.

Tyobeka het al uitlatings gemaak oor die erns van die PUK om Afrikaans op kampus te behou, maar beleidsdokumente dui op die teenoorgestelde. In die lig hiervan het die jeugorganisasie na Potchefstroom gereis om die brief fisies te oorhandig en die PUK daaraan te herinner dat hulle slegs 12 dae oor het om die vrae wat vroeër gestel is te beantwoord.

AfriForum Jeug het op 19 Oktober ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die PUK gestuur om vas te stel wat die toekoms van Afrikaans op die PUK is.

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug, sê dat die PUK tans besig is om dieselfde paadjie te stap as al die ander universiteite in die land wat Afrikaanse onderrig afgewater en uiteindelik afgeskaf het.

“Die vrae wat in die PAIA-aansoek gestel is, sal kan aandui wat die toekoms van Afrikaans werklik op die PUK is, terwyl AfriForum Jeug reeds baie skepties daaroor is na aanleiding van ’n ondersoek oor die universiteit se beleidsdokumente. Die antwoorde op ons PAIA-aansoek sal egter deurslaggewend wees, sodat ons vir voornemende studente en donateurs met akkurate inligting kan toerus oor die gebruik van Afrikaans op dié kampus, sodat hulle ’n ingeligte besluit kan neem oor waar hulle wil studeer, of geld wil skenk,” sluit Van der Vyver af.