NWU-Skorsing
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug tree in ná NWU-student geskors word

AfriForum Jeug het sy regspan vanoggend opdrag gegee om ondersoek in te stel vir moontlike regstappe in verband met die tydelike skorsing van ’n senior student aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Die student het na bewering openlik beswaar gemaak teen die inhoud wat tydens tydens ’n oriëntasiegeleentheid bespreek is. Tydens die sessies is onder meer LBGTQIA+-regte bespreek.

Shaun Christie het na bewering kritiek gelewer en aangevoer dat studente nie veilig voel om oor Christenskap te praat nie, maar dat gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word.

AfriForum Jeug sal nou ondersoek instel na die gronde van die betrokke student se tydelike skorsing. Volgens inligting ontvang is die student vanweë beweerde disrespekvolle optrede geskors. Sy skorsing behels onder meer dat hy nie die kampus mag betree of gebruik mag maak van enige fasiliteite nie. Hy mag ook nie deelneem aan enige akademiese verrigtinge of geregtig wees op enige regte waarop ’n NWU-student gewoonlik mag aanspraak maak nie.

Volgens Ronald Peters, woordvoerder van AfriForum Jeug, beklemtoon die organisasie dat studente nie verhinder mag word om hul mening uit te spreek as hulle nie saamstem met sekere standpunte of aktiwiteite op die kampus nie. Hierdie saak raak die kern van vryheid van uitdrukking, ’n grondwetlike reg wat in alle demokratiese samelewings beskerm moet word.

“Ons ondersteun die beginsel dat universiteite plekke van oop dialoog en verskillende menings moet wees, waar studente nie onderdruk, stilgemaak of gestraf moet word vir hul persoonlike oortuigings nie. Hierdie student het geen ander student se regte geskend nie, maar sý reg tot vryheid van uitdrukking is egter geskend en sy reg tot vryheid van assosiasie is van hom en sy medestudente ontneem. Ons kan nie toelaat dat die bestuur van ‘n universiteit ‘n narratief dryf en studente nie toelaat om daarteen op te staan, indien hul nie daarmee saamstem nie,” sluit Peters af.

AfriForum Jeug het sy regspan opdrag gegee om die student te adviseer met sy appèl teen die skorsing en gaan verder betrokke raak by die saak teen die universiteit.