Maties-2
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis maksimum publieke sigbaarheid van US se verskoning oor menseregteskendings van Afrikaanse studente

AfriForum Jeug onderneem om op die Universiteit Stellenbosch (US) druk toe te pas om ’n openbare verskoning van maksimum sigbaarheid aan die studente oor die menseregteskendings te maak. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) bevind het dat die US wel studente se menseregte geskend het deur hulle te verbied om Afrikaans te praat.

Die SAMRK het Woensdagoggend in sy verslag die US verplig om deur die kantoor van die rektor en visekanselier, ’n skriftelike, openbare verskoning uit te reik. Die jeugorganisasie voer aan dat hierdie publieke verskoning noodsaaklik is juis omdat die veroordeelde gebeure van 2021 in 2023 herhaal is en bewys dat daar steeds ’n kultuur heers waar studenteleiers gemaklik voel om studente te verbied om hul moedertaal te praat. AfriForum Jeug wil verhoed dat US die minimum sal doen om die opdrag van die SAMRK na te kom.

“Hierdie verskoning moet nie net ’n verskoning vir die studente wat te nagekom is wees nie, maar ook die vernietigende kultuur van taaluitsluiting uitwys en benadruk dat ’n diskriminerende houding teenoor taal onaanvaarbaar is. Die SAMRK-verslag, asook AfriForum se Konstitusionele Hof-oorwinning in 2021 vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by Unisa, bewys dat die tydsgees oor taal besig is om te draai soos die behoefte vir meertaligheid groei. AfriForum Jeug sal vir Afrikaans op ons universiteitskampusse aanhou veg,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het reeds vanjaar sy verantwoordelikheid as waghond by die US nagekom deur doelgerig op te tree en verdere aksies te beplan nadat studente se menseregte weer tydens die 2023 verwelkoming geskend is toe studenteleiers eerstejaarstudente opdrag gegee het om slegs Engels te praat. Lede van die jeugorganisasie sal voortaan dié rol op die US-kampus versterk en by studenteleiers bevestig of dié opdrag van die SAMRK dat die US binne 74 dae (60 dae nadat hulle binne die volgende 14 dae die verslag aan koshuisleierskap bekend gemaak het) aan koshuisleierskap opleiding moet verskaf oor die korrekte interpretasie en toepassing van die 2021-taalbeleid. AfriForum Jeug se Maties-tak skep ’n platform waar studente anoniem en direk soortgelyke vergrype en insidente, waar ’n enkel-Engelse-beleid toegepas word, kan aanmeld.

In teenstelling met die bevindings van die SAMRK wat op taalregte gefokus het, ongeag van watter taal ter sprake is, het die Khampepe-verslag van Oktober 2022 juis Afrikaans as sondebok uitgesonder.

“Dit maak die bevooroordeelde aanslag van die Khampepe-verslag se inhoud en aanbevelings opnuut duidelik en onderstreep waarom dié verslag eerder probleme geskep as opgelos het. Een van die aanbevelings was dat die voorkeur vir Afrikaans op die kampus niemand mag uitsluit nie, maar die teendeel is net so belangrik, naamlik dat niemand uitgesluit mag word omdat hy of sy ten gunste van Afrikaans gekies het nie. Ten einde ’n ware kultuur van insluiting op kampusse te skep moet alle studente se taalregte en taalkeuses erken en gerespekteer word,” sluit Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, af.