P18-Wim-de-Villiers-886x580
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis gevolge vir Wim de Villiers en aanspreeklikheid en aksie vanaf Universiteit Stellenbosch

AfriForum Jeug aanvaar nie dat die mosie van wantroue, wat die Universiteit Stellenbosch-konvokasie teen prof. Wim de Villiers gebring het, slegs verband hou met ’n nepotisme-skandaal nie terwyl daar geen melding gemaak word van die skending van Afrikaanse studente se menseregte wat ook onder sy toesig plaasgevind het nie. Die totale afwesigheid van erkenning van aanspreeklikheid of ’n aankondiging van daadwerklike aksies in die lig van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag is ook onaanvaarbaar.

Na aanleiding van vele klagtes van Afrikaanse studente in 2021 wat beweer dat hulle deur verteenwoordigers van die universiteit verbied word om hul moedertaal te praat – selfs in ’n private hoedanigheid – het die SAMRK ondersoek ingestel. Die SAMRK het  in 2023 ’n verslag bekendgemaak waarin hulle bevind het dat Afrikaanse studente se menseregte geskend word by die Universiteit Stellenbosch (US). Dit is ontstellend dat soortgelyke klagtes wéér in 2023 opgeduik het.

AfriForum Jeug eis eerstens dat De Villiers nie slegs aanspreeklik gehou word vir beweerde nepotisme nie, maar ook vir die menseregteskendings teen Afrikaanse studente wat onder sy toesig plaasgevind het. Tweedens, moet die US duidelik aanspreeklikheid aanvaar vir die vyandige en onwelkome omgewing wat Afrikaanse studente ervaar op kampus. Daar moet ook ’n aankondiging wees waarin die US daadwerklike aksies bekendmaak om te verhoed dat Afrikaanse studente weer op hierdie wyse geteiken word.

“As ’n oud-Matie, is dit vir my skandelik en ’n diep verleentheid om kennis te neem van die veldtog teen Afrikaans wat plaasvind by my ou universiteit. Ek het reeds self as student by die Universiteit Stellenbosch ervaar hoe Afrikaans stadig maar seker gemarginaliseer word, maar dit blyk asof hierdie marginalisering deur die universiteit net vererger het sedert my gradeplegtigheid,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Tot dusver het die Universiteit Stellenbosch geen poging aangewend om aanspreeklikheid te aanvaar vir die steurende bevindinge van die SAMRK nie. Geen aksies is aangekondig om die toksiese, vyandige omgewing te beveg wat ontstaan het vir Afrikaanssprekendes op Stellenbosch se kampus nie. Beide die onlangse nepotisme-skandaal, asook menseregteskendings teen Afrikaanse studente, is simptome van ’n groter probleem by die US:  ’n totale gebrek aan aanspreeklikheid aanvaar en gevolge vir hooggeplaastes, asook ’n kultuur van ontkenning en verskonings maak vir die onverskoonbare,” sluit Van Zyl af.