OLYMPUS DIGITAL CAMERA

UP-taalproses ʼn rookskerm vir ʼn slegs Engels taalbeleid

As Tuks-studente, personeel en alumni nie nou opstaan nie, is Afrikaans se dae op Tukkies getel.

So sê AfriForum Tuks nadat die organisasie onttrek het van UP se taalbeleidwerksgroepe. Volgens Henrico Barnard, woordvoerder van AfriForum Tuks, het die organisasie geen ander keuse gehad as om hul te distansieer van onderduimse bedrywighede van hierdie werksgroepe nie. Dit volg nadat ʼn voorlopige voorstel deur die taalbeleidswerksgroep gesirkuleer is wat ʼn slegs Engels taalbeleid voorstaan.

Nadat die EFF en DA reeds van die taalbeleidwerksgroepe onttrek het, het AfriForum Tuks sonder sukses gepoog om die proses positief te beïnvloed.

“Ons lewer insette om ʼn oplossing te vind sodat alle studente geakkommodeer word,  maar ons regte en behoeftes word glad nie in ag geneem nie.  Geen geregistreerde studente organisasie is nou meer betrokke by hierdie taalbeleidwerksgroepe nie,” het Barnard gesê.

Die  samestelling van die taalbeleidwerksgroepe was van meet af aan ʼn probleem. Dit verteenwoordig nie die breë kampusgemeenskap nie, maar is onder leiding van die regsdosent Danie Brand en ook Quraysha Ismail-Sooliman, Ulrike Kistner, Helen Inglis and Nisha Pillikar, gekaap. Hulle is deel van die University of Pretoria Academics for Change (UPAC).

Barnard het gesê in die vergaderings van die taalbeleidwerksgroepe word studente blootgestel aan bogenoemde personeel se onverdraagsaamheid en woede-uitbarstings wanneer daar oor Afrikaans gepraat word.  UPAC is ʼn informele organisasie wat ʼn sleutelrol gespeel in die destabilisering van die Tukkie-kampus vroeër vanjaar. UPAC het die simpatie van verskeie lede van die UP-bestuur. “Elke keer wat ons hierdie probleme aan prof. Anton Kok opper, word ons bloot gestoomroller”, het Barnard gesê.

Met meer as 13 000 studente is die Afrikaanse studente-gemeenskap die enkelgrootste taalgroep op Tukkies. Ten spyte hiervan verwerp die werksgroepe die pro-meertaligheid standpunte as ʼn minderheidsgevoel en wil dit  ʼn slegs Engels taalbeleid navolg. Die UP is gevolglik besig om studente se grondwetlike regte te ontneem.

AfriForum Tuks is bekommerd dat die UP-bestuur nie oop kaarte met studente speel nie. Tydens die Februarie onderhandelinge wat AfriForum en die ANC met die rektor, prof. Cheryl De La Rey, en registrateur, prof. Niek Grove, gevoer het, is ooreengekom dat Afrikaans en Sepedi se plek op Tuks veilig sou wees. UP-bestuurslede is op rekord dat hulle eerder ʼn Engelse taalbeleid sou aanvaar, uit vrees vir geweld. Dus bepaal geweld nou UP se bestuursbesluite.

“UP stel nie in ʼn billike en regverdige taalproses belang nie. Die huidige oefening is ʼn halfhartige poging om inkoop te kry vir die eise van die gewelddadige groepe. Hierdie bestuurpraktyk het juis gelei tot die klimaat van geweld wat in Februarie geskep is. Met die nuwe klasgeld-verhoging wat binnekort bespreek moet word gaan prof. De la Rey se kapitulering oor die taalkwessie net stu-krag geen aan ʼn hernude #FeesMustFall-veldtog”, het Marthinus Jacobs, AfriForum Tuks-voorsitter gesê.

AfriForum Jeug sal ʼn memorandum aan die universiteit oorhandig waarin ons taalbeleidsvoorstelle vervat word. Intussen het AfriForum reeds opdrag aan sy regspan gegee om die geldigheid van die taalbeleidsproses te ondersoek.