OLYMPUS DIGITAL CAMERA

UP-taalbeleid: Finansies speel geen rol

Volgens ’n verslag wat deur die onafhanklike transformasiepaneel van die raad van die Universiteit van Pretoria (UP) saamgestel is, kan die argument nie gevoer word dat finansies ’n rol gespeel het in die UP-raadsbesluit dat Engels vanaf 2017 die primêre onderrigtaal aan dié universiteit gaan wees nie.

“Daar is verskeie argumente oor dié raadsbesluit gevoer, waarvan dié van koste een was. Die UP-raad het telkemale die argument gehuldig dat ’n enkeltaalbeleid meer kostedoeltreffend gaan wees. Hiér is egter ’n klinkklare bewys dat die universiteit geen addisionele uitgawes hoef aan te gaan om Afrikaans as onderrigmedium te behou nie,” sê Henrico Barnard, woordvoerder van AfriForum Jeug se Tuks-tak.

Volgens Jaco Grobbelaar, koördineerder van AfriForum Jeug se Tuks-tak, het die universiteit nie ’n opname van die taalbehoeftes van UP-studente gemaak nie. “Daar was slegs een pro-Afrikaanse verteenwoordiger wat op die taalwerkstroom van die UP gedien het, met die gevolg dat die stemme van die Afrikaanse studentegemeenskap bloot geïgnoreer is,” sluit Grobbelaar af.