Kommerwekkende uitslag van Potchefstroom naamsveranderingsreferendum – AfriForum Jeug loods veldtog teen stadsraad

ʼn Totaal van 97,4% van die Potchefstroom-inwoners wat deelgeneem het aan AfriForum Jeug se referendum oor die naamsverandering van Tomstraat na Steve Bikostraat het aangedui dat hulle nie ten gunste van die naamsverandering is nie.  In die lig hiervan het AfriForum se jeugkomitee aangekondig dat hy ʼn veldtog teen die Potchefstroomse stadsraad van stapel sal stuur en ʼn tak in dié dorp sal stig.  Die referendum is op Vrydag, 25 Julie 2008, in die betrokke straat in Potchefstroom gehou.

Volgens Tanya Kruger, woordvoerder van AfriForum Jeug in Potchefstroom, laat hierdie syfer ernstige vrae oor die regsgeldigheid van die naamsveranderings en die stadsraad se agenda ontstaan.  “Name kan nie net verander word ter wille van verandering nie, sekere prosesse moet gevolg word en die publiek moet in ag geneem word,” het Kruger gesê.  Sy het aangedui dat AfriForum Jeug die regsgeldigheid van die naamsveranderings sterk bevraagteken, aangesien die nodige prosesse nie gevolg is nie en die openbare mening geensins in ag geneem is nie.  AfriForum Jeug beplan om in die nabye toekoms ʼn Potchefstroomtak te stig sodat hierdie aangeleentheid verder gedryf kan word.  ʼn Omvattende veldtogstrategie is reeds saamgestel.

As deel van die veldtog beplan AfriForum Jeug om borde met die oorspronklike straatname te borg en aan instemmende inwoners te gee om op hulle privaateiendom te plant.  ʼn Protesaksie by die kantore van die stadsraad wat met die oorhandiging van ʼn memorandum van versoeke gepaard sal gaan, word beplan, asook die bekendstelling van ʼn omvattende verslag oor die naamsveranderings in dié dorp.  AfriForum Jeug beplan voorts om hieroor met bekende dorpsbewoners en kunstenaars in verbinding te tree en om studente by sy inisiatiewe te betrek.

ʼn Volledige verslag oor die referendum van 25 Julie 2008 is reeds opgestel en is beskikbaar by www.afriforumjeug.co.za.  Hierdie verslag bevat ʼn uiteensetting van die referendumuitslag en ʼn aksieplan vir die pad vorentoe.  Foto’s van die referendumaksie is op aanvraag is beskikbaar.

Studente wat by hierdie veldtog betrokke wil raak, kan deur AfriForum Jeug se webblad met die organisasie in verbinding tree.