marcelo-leal-k7ll1hpdhFA-unsplash
| DeurAfriForum

Gemeenskapsdiensjaar – ’n administratiewe gemors

Daar is vanjaar weereens noodkrete van afgestudeerdes in medieseberoepsrigtings wat iets lui, soos: “Help! Ek is nie geplaas vir my gemeenskapsdiensjaar nie.” Die administartiewe gemors wat met die verpligte gemeenskapsdiensjaar vir gesondheidswerkers gepaardgaan raak elke jaar erger. AfriForum Jeug het al ’n paar klagtes van studente ontvang in hierdie verband en daarom is ons gereed om te litigeer in die geval waar jongmense se loopbane deur die staat se wanadministrasie gestrem word. Die jeugorganisasie staan reg om die howe te nader om gegradueerdes van die verskeie medieseberoepsrigtings van hul gemeenskapsdiensjaar te vryskeld indien die staat versuim om hulle betyds te plaas.

Dit is ’n verreikende probleem wat dringend aangespreek moet word. Die administratiewe gemors strem nie net jong mediese lui se loopbane en kans om ’n inkomste te verdien nie, maar dit vererger ook die tekort aan gesondheidswerkers in Suid-Afrika. Daar is in hierdie jaar bevind dat Suid-Afrika minder as een dokter per 1000 landsburgers het. Dit is kommerwekkend dat daar in 2019 meer as dubbeld soveel was, toe die statistiek gelui het: 0,79 dokters per 1000. Die Verenigde Koninkryk het 3,03 dokters per 1000, terwyl Brasilië, wat ook ’n ontwikkelnde land is, 2,32 dokters per 1000 het.

So, waarom die tekort? Die meeste mense sal heel eerste emigrasie as rede aanvoer en hulle is ongelukkig nie heeltemal verkeerd nie. Daar is dan ook ’n lys oplossings wat mens hiervoor kan bied, soos om die beplanning van die NGV (nasionale gesondheidsversekering) te skraap, rassekwotas by die keuringsproses te verbied en meer mediese fakulteite in Suid-Afrika tot stand te bring. Ek sal met hierdie voorstelle daarvan beskuldig word dat ek lugkastele bou, maar daar is een voorstel wat nie veronderstel is om onhaalbaar te wees nie: plaas jong, gekwalifiseerde gesondheidswerkers vir hulle gemeenskapsdiensjaar. Ongelukkig blyk dit dat selfs hierdie eenvoudige voorstel onmoontlik is vir die staat se ICSP (“Internship and Community Service Programme”) inisiatief.

Vir gesondheidswerkers om ten volle gekwalifiseerd te wees en toegelaat te word om in Suid-Afrika te praktiseer, moet hulle na die voltooiing van hulle studies (en in sommige rigtings, soos dokters, na die voltooiing van ’n internskap) ’n verpligte jaar van gemeenskapsdiens doen. Die jong gekwalifiseerdes moet deur die ICSP se portaal aansoek doen om geplaas te word. Plasings is veronderstel om spoedig te geskied, sodat die gesondheidswerkers in Januarie vir diens kan aanmeld. Daar is dan ook ’n sogenaamde mid-jaar-siklus waar gekwalifiseerdes, wat nie in Januarie geplaas is nie (of vir ander redes eers later aansoek vir ’n plasing gedoen het), teen Julie geplaas moet word. Indien ’n persoon deur die staat na die mid-jaar-siklus geskuif is beteken dit dat die persoon, as gevolg van die staat, vir 7 maande werkloos is, omdat hy/sy nie mag werk voordat die gemeenskapsdiensjaar voltooi is nie.

Die jong gesondheidswerkers moet op die ICSP-portaal verskeie voorkeure, soos bestemmings en mediese behoeftes kan aandui. AfriForum Jeug het egter verneem dat daardie opsie nie altyd vir almal beskikbaar is nie. ’n Afgestudeerde apteker het laat weet dat al die voordele, wat punte getel het vir die eerste siklus, weggeval het met die mid-jaar-siklus van 2022. Dit sluit voorbeelde in soos dat ’n individu veronderstel is om geplaas te word binne ’n sekere area wanneer die individu na ‘n naasbestaande moet omsien of getroud is met ’n lewensmaat wat reeds werk by ’n spesifieke bestemming.

Die departement van gesondheid is saam met belangegroepe, soos die nasionale en provinsiale gesondheid en tesourie departemente en die raad vir gesondheidsberoepe, verantwoordelik vir die plasings. Daar is talle redes waarom die plasings ’n administratiewe gemors is. Dr. Mvuyisi Mzukwa, die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse mediese vereniging, het verlede jaar gesê, “dit word ’n stryd tussen die provinsiale departemente en die tesourie en die nasionale departement van gesondheid.”

Daar is 18 mediese beroepsrigtings wat deur die administratiewe gemors geraak word, van aptekers, tandartse en dokters, tot fisioterapeute, dieetkundiges en arbeidsterapeute. Suid-Afrikaanse burgers benodig die kundigheid van hierdie jong gekwalifiseerdes. Tog, word hulle dikwels baie swak deur hierdie stelsel behandel. Daar is selfs ’n mediese dokter, wat haar kwalifikasie met onderskeiding verwerf het, wat moedeloos by AfriForum Jeug moes aanklop omdat sy ’n studielening moet afbetaal, maar werkloos is as gevolg van die swak administrasie van die ICSP. Sy het van die nasionale kantoor gehoor dat sy geplaas is by ’n hospitaal in die Oos-Kaap, maar die hospitaal hou vol dat hulle nie ’n beskikbare pos vir haar het nie. Hierdie jong dokter, soos ander gekwalifiseerdes wat vir AfriForum Jeug om hulp genader het, sê dat korrespondensie van die ICSP heeltemal afwesig, of baie vertraag is.

Dit is onaanvaarbaar dat jong gekwalifiseerdes, wat bereid is om in gemeenskappe te dien as gesondheidswerkers, gekonfronteer word met onnodige uitdagings wat veroorsaak word deur die onbevoegdheid van die ICSP. AfriForum Jeug gaan dit nie duld nie en nooi daarom afgestudeerdes in medieseberoepsrigtings, wat as gevolg van die staat se onbevoegdheid nie geplaas word nie, uit om die jeugorganisasie te nader by Laat vaar zuma-jaar as plasings misluk – AfriForum Jeug