SANCO

Eise vir gratis onderrig onrealisties – AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is van mening dat gratis tersiêre onderrig in Suid-Afrika nie haalbaar is nie.

Universiteite het in 2014/2015 nagenoeg R28 miljard subsidie van die regering ontvang wat belastinggeld is.

“Versoeke deur groepe soos Students for Law and Social Justice (SLSJ) dat ryk studente arm studente se studies moet subsidieer, is verregaande,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se koördineerder.

Volgens Grobbelaar is dit onrealisties om van belastingbetalers te verwag om nog verder tot ander mense se universiteitsgelde by te dra.

AfriForum Jeug meen die regering moet hand in eie boesem steek en eerder fokus op die behoorlike bestuur van hulpbronne wat vir studentehulp en studies aangewend kan word.

Een voorbeeld is die aanwending van fondse uit die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS). Dié fonds het in 2015/2016 sowat R14 miljard beloop. “Die minister het self erken dat dié fonds in 2017 met ’n bykomende R20 miljard sterk kon wees indien begunstigdes hul skuld aan lenings terugbetaal het.”

Grobbelaar sê daar is gereeld mediaberigte oor die wanaanwending en korrupsie rondom NSFAS. “Die regering het ’n verpligting om dringend hier in te gryp.”

Hy sê voorts ’n bykomende R459 miljoen sou vanjaar vir studiehulp aan behoeftige studente beskikbaar kon wees as studente nie soveel skade tydens protesoptogte op kampusse aangerig het nie.

Grobbelaar verwys na dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, se uitsprake in die verlede dat gratis onderwys wel moontlik is. “Die ondeurdagte uitsprake het bygedra tot wanpersepsies onder studente dat onderrig wel gratis kan wees en het daartoe gelei dat instellings in die spervuur is om aan dié eise te voldoen.”

Grobbelaar meen instellings moet hul regmaak vir verdere probleme in die lig van die voorspelling dat klasgelde aanstaande jaar met tot 8% sal verhoog.

Hy sê dit is onaanvaarbaar om van onder andere Afrikaanse studente te verwag om medestudente te subsidieer terwyl universiteite reeds begin het om hul grondwetlike reg tot moedertaalonderrig te ondermyn.