Cheryl-de-la-Rey-XXX

UP-bestuur gee toe aan eis dat Afrikaans geskrap word

Wat het Afrikaanse klasse met klasgeld te make? Dít is die vraag wat elke Afrikaanse Tukkies-student hulself vra nadat dit aan die lig gekom het dat prof. Cheryl de la Rey, rektor van die Universiteit van Pretoria (UP), daartoe ingestem het om UP se taalbeleid te hersien. Volgens Ian Cameron, AfriForum Jeug se woordvoerder, is hierdie die jongste in ’n vlaag aanvalle op moedertaalonderrig by universiteite.

Afrikaans het die afgelope maand onder skoot gekom toe die Universiteit van Stellenbosch én die Universiteit van die Vrystaat toegestem het tot prosesse wat Afrikaans in dié universiteite ’n finale nekslag kan toedien. Daar word tans op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) soortgelyke eise gestel.

Volgens Cameron het die UP-bestuur eergister (26 Oktober 2015) daartoe ingestem om te begin met die ondersoek om UP se taalbeleid só te wysig dat slegs Engels voortaan gebruik sal word. Dié stap misken die reg van Afrikaanse UP-studente om in hul moedertaal onderrig te ontvang. Die Universiteitsbestuur gee toe aan studentegroepe wat met geweld en intimidasie kampusse onregeerbaar maak. Sou Afrikaanse studente op soortgelyke wyse (as die #FeesMustFall-groep) moet betoog om ons regte te beskerm?

UP sloer volgens Cameron reeds langer as ’n dekade om ’n vaste plek vir Afrikaans in UP te verseker. Ondersoeke wat reeds in 2007 tot 2010 deur UP gedoen is, dui daarop dat Afrikaanse onderrig wel bekostigbaar is.

Die meeste van vandag se Afrikaner-studente is ná 1994 gebore. Hulle het onder die nuwe Grondwet grootgeword, en tog het Afrikaner-studente in praktyk nie dieselfde vryheid as hul medestudente nie. Vandag se Afrikaner-studente het geen rol in apartheid gespeel nie, tog moet hulle gebuk gaan onder beleide wat daarop gemik is om uitkoms van dáárdie stelsel aan te spreek – in dié geval word die diskriminerende gevolge van rasgebaseerde toelatingskwotas, rasgebaseerde finansiële hulp en die ontkenning van moedertaalonderrig deur die regering en universiteite as instrumente teen ons gebruik.

AfriForum Jeug sal volgende week ’n memorandum aan die UP-bestuur oorhandig waarin die organisasie eis dat die Afrikaans gelyke behandeling as Engels geniet.