Groepfoto
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug wil die president inlig oor basiese ekonomiese beginsels

René van der Vyver

“Staatsbestand”– dit is ’n term wat al hoe meer deur AfriForum Jeug gebruik word om te verduidelik dat jongmense sukses moet behaal ten spyte van al die hindernisse wat die staat daarstel. Dié term maak baie sin as mens kyk na die ANC se nuutste rekords soos ’n werkloosheidskoers van 46%+ en ’n jeugwerkloosheidskoers van 66%+.

Wat die hoë werkloosheidskoers nog meer kommerwekkend maak, is die feit dat dit die resultaat is van ’n regering wat beweer dat werkskepping baie aandag in hul geledere geniet. Die president skryf in sy brief van 13 Junie dat die ANC-regering se eerste prioriteit, sedert 1994, werkskepping is. Mens sou dit nooit kon raai nie, want vir die afgelope drie dekades word die jeugwerkloosheidskoers net al slegter.

AfriForum Jeug het dit goedgedink om op 6 Julie ’n boek aan die president te oorhandig wat basiese ekonomiese beginsels en valshede uiteensit en verduidelik. Die jeugorganisasie is bevrees dat die ANC-leierskap ’n struikelblok in die jeug se pad is en het dus besluit om Thomas Sowell se boek Economic facts and fallacies te oorhandig.

Dié boek wys ’n klomp ekonomiese valshede uit wat volgens AfriForum Jeug juis dit is waarin die ANC-regering glo en gevolglik die ekonomie lamlê. Tydens die boekoorhandiging word daar ook ’n brief van AfriForum Jeug oorhandig waarin die hoofargumente van die boek gelys word. Hierdie lys argumente is belangrik aangesien die ANC duidelik die pad byster is, want hulle kies om vas te klou aan talle ekonomiese valshede. Om ’n paar uit te lig:

  • Minder regeringsinmenging is beter

Die ANC wil egter orals inmeng. In die brief van die president waarna daar vroeër verwys is, het hy byvoorbeeld weer beklemtoon dat sosiale indiensneming vir jongmense geleenthede skep, met spesiale verwysing na ’n nuwe maatskaplike indiensnemingsfonds. Dit is ongelukkig ’n onvolhoubare benadering wat jongmense nie gaan bemagtig nie, maar eerder meer afhanklik van die staat gaan maak.

  • Privaat eiendomsreg is belangrik

Die ANC is deurentyd besig om die debat oor grondonteiening sonder vergoeding te voer en sodoende privaat eiendomsreg irrelevant te maak. Vir die regdenkendes wat saam met Sowell stem oor die belangrikheid van privaat eiendomsreg, is dit duidelik dat die ANC met hul pogings om artikel 25 van die Grondwet te wysig ook in dié opsig in ekonomiese valsheid glo.

  • Politici verdraai gewoonlik die redes agter armoede om hulle agendas te pas en dit het negatiewe gevolge

Suid-Afrikaanse burgers hoor tot vervelens toe hoe armoede totaal blameer word op dinge wat voor die ANC-regering se bewind in Suid-Afrika gebeur het. Vir die afgelope 28 jaar word die ekonomie egter deur ANC-korrupsie en wanadministrasie lamgelê. Politici moet ophou om van hierdie feit weg te skram en eerder die probleem erken en effektief aanspreek.

Sowell beklemtoon onder andere ook hoe belangrik dit is om gemeenskappe te fasiliteer om self verantwoordelikheid te neem. AfriForum is ongetwyfeld die beste voorbeeld van hiervan en streef daarna om heeltemal staatsbestand te word. AfriForum Jeug het dus vir die president sy eerste boek van Ekonomie 101 geskenk, as ’n beginpunt, sodat jongmense kan hoop om ten spyte van al die uitdagings te groei tot volwassenes wat ’n positiewe bydrae in ons land kan lewer.