20130430-photo-18

AfriForum Jeug hou “regstellende-aksie-koffiewinkel”

AfriForum Jeug is deur die sekuriteit van die Universiteit van Pretoria (UP) verbied om hulle veldtog teen rassklassifikasie voort te sit nadat die organisasie koffie teen verskillende pryse aan studente van verskillende rasse verkoop het. Dr Matete Madiba, studentedekaan aan die UP, het AfriForum Jeug beveel om onmiddellik die betoging teen rasseklassifikasie te staak.

AfriForum Jeug Tukkies het Vryheidsdag herdenk deur die impak van rasseklassifikasie op Tukkies uit te beeld deur koffie aan wit studente vir R5 te verkoop, terwyl bruin en Indiërstudente R3 en swart studente R1 per koppie moes betaal. ANC-ondersteuners kon verniet koffie kry mits hulle ‘n donasie in die korrupsieboks gooi.

“Hoe is dit dat ‘n universiteit jou van die kampus af wegjaag as jy ‘n veldtog hou vir ‘n nierassige samelewing? Ons is ‘n mondstuk vir studente, aangesien 97% van Tukkie-studente vroeër vanjaar JA gestem het vir die afskaffing van rasseklassifikasie,” het Barend Taute, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies, gesê.

“19 jaar nadat Suid-Afrika oënskynlik vrygemaak is van rasseklassifikasie word studente aan die UP steeds volgens ras gekeur. Studente wil vry wees van rasseklassifikasie en hierdie aksie is ‘n manier om uit te beeld hoe belaglik dit is om op grond van ras voorkeur te geniet,” het Taute gesê.

Studente het tougestaan om hulle koffie teen “regstellende-aksie-pryse” te koop en op ‘n lighartige wyse hulle protes teen rasseklassifikasie aan te teken. Studente op die kampus was uiters positief oor die wyse waarop regstellende aksie uitgebeeld word. Ander studente het veral op sosiale media hulle ontevredenheid gelug dat hulle ras die prys van die koffie bepaal en dit afgemaak as “rassisties”. Volgens Taute spreek die reaksie boekdele omdat studente dikwels regstellende aksie as vanselfsprekend aanvaar, maar sodra dit in ‘n ander konteks gebruik word dit vir hulle duidelik word hoe rasgebaseerde beleide mense benadeel.

Volgens Taute is die aksie ‘n uitbeelding van regstellende aksie se werklike impak op studente. “Studente aan die UP is moeg daarvoor dat daar teen hulle gediskrimineer word op grond van hulle ras,” sê Taute.

In fakulteite soos Veeartsenykunde en Gesondheidswetenskappe is ras nog ʼn bepalende faktor, maar in koshuise maak AfriForum Jeug se veldtog teen rasseklassifikasie wel vordering. AfriForum Jeug het in 2012 verskeie klagtes van koshuise ontvang oor die kwotastelsel by huiskomitee- (HK) verkiesings, maar nadat dit met die UP opgevolg is, is daar ingestem om ‘n proefkoshuis in te stel met ‘n verlaagde kwota van 2 in plaas van 5 studente per HK. Volgens Taute word studente wat aansoek doen vir beurse en lenings ook dikwels op grond van hulle ras gekeur. AfriForum Jeug het ‘n vergadering vir 7 Mei belê met die nasionale bestuur van die Nasionale Navorsingstigting (NRF), om die beginsel van nierassigheid by die toekenning van beurse te bespreek.

AfriForum Jeug wil rasseklassifikasie aan universiteite stelselmatig afgeskaf hê en studente bewus maak van die werklike impak van regstellende-aksie-beleid op individue en die land as geheel.