main-building12bf8fe65b146fc79f4fff0400aa9400

AfriForum Jeug gereed om Afrikaanse Kovsie-studente se taalregte te verdedig

Die regspan van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit is gereed om die taalregte van Afrikaanse studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te verdedig met enige regsaksie wat verder nodig mag wees.

Op 21 Julie 2016 het die hooggeregshof in Bloemfontein ten gunste van die drie organisasies uitspraak gelewer teen die UV se nuut aanvaarde taalbeleid wat Afrikaans as taal van onderrig aan die universiteit uitrangeer. Die universiteitsbestuur het nou aangedui dat dit aansoek gedoen het om die uitspraak beide in die appèl- en/of grondwethof teen te staan.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die hooggeregshof in ’n baie omvattende en duidelike uitspraak beklemtoon dat die universiteit ’n plig het om meertalige onderrig aan te bied en dat dit boonop vir die instelling nodig en prakties uitvoerbaar is om voort te gaan met Afrikaanse onderrig. Die uitspraak onderstreep ook dat dit in die gemeenskap se belang is dat studente eendag in hulle moedertaal moet kan diens lewer in hulle onderskeie beroepsvelde, en nie net in Engels nie.

“In ’n tyd waar universiteite voor groot finansiële uitdagings staan en op verskeie platforms vertoë om meer befondsing rig, is dit tragies dat hulpbronne aangewend word in ’n voortgesette stryd om ’n skending van studente se nasionaal en internasionaal erkende taalregte te probeer regverdig. Dit skep die indruk dat die universiteitsbestuur se stryd teen Afrikaans van soveel belang geraak het, dat dit teen enige koste deurgevoer sal word,” het Bailey gesê.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, is dit hartseer dat die UV – ongeag die gemeenskap se belang, reg en aandrang op meertalige onderrig – voortgaan om sy belange eensydig op die gemeenskap te forseer. “Terwyl AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit fokus op die gemeenskaplike verpligting van universiteite om meertalige onderrig te ontwikkel, fokus die UV daarop om Afrikaans as onderrigtaal te beëindig. Dit is nie net teenstrydig met die universiteit se konstitusionele verpligtinge nie, maar ook teenstrydig met die belange van elke Afrikaanse student wat meer gemaklik voel om onderrig te word in sy huistaal,” voeg Van der Bijl by.

Van der Bijl het voorts gesê dat die UV se wense om Afrikaans aan die universiteit te beëindig ’n geweldige impak op werknemers van die universiteit, en meer spesifiek dosente aan die universiteit, sal hê.

Daar word tans op die verdere direktiewe van die grondwethof gewag om te weet wat die verdere regsproses gaan behels. Die drie instellings se regspan is gereed om daarvolgens die proses voort te sit om die regte van studente en voornemende studente te beskerm.  Intussen word ook vir ’n dringende aansoek teen die implementering van die 2017-beleid voorberei.