Jeug-veldtog-banner

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit verwelkom uitspraak oor UV-taalbeleid as oorwinning vir Afrikaans

Jeug-veldtog-banner

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit verwelkom die uitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein vandag – wat die senaats- en raadsbesluit oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat tersyde stel – as ʼn oorwinning vir Afrikaans, sy sprekers en die taalregte van Suid-Afrikaners oor die algemeen. As dié besluite gehandhaaf sou word, sou Afrikaans in 2017 nie meer as onderrigmedium aan die universiteit gebruik word nie, buiten in enkele opvoedkunde- en teologiekursusse. Afrikaans behou dus nou sy huidige posisie as onderrigmedium aan dié universiteit.

In die saak, wat op 20 Junie 2016 aangehoor is, het dit duidelik geword dat die universiteitsbestuur geen oorweging geskenk het aan die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet betreffende die reg tot keuse van taal van onderrig nie, maar eerder die knie voor anargie gebuig het en in die proses ’n politieke spel as ’n taalkwessie vermom het.

Die uitfasering van Afrikaans as onderrigmedium sou die regte van lede van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit – wat Afrikaanssprekende studente, voornemende studente, hulle ouers en werknemers van die universiteit insluit – ingrypend raak. Dit word verwelkom dat hulle reg tot moedertaalonderrig deur die hof beskerm is. Die toenemende verengelsing van tersiêre onderwys is nie alleen uit pas met internasionale tendense nie, maar maak groot inbreuk op die regte van meer as 90% van die land se inheemse moedertaalsprekers. Die argument dat Engelse onderrig groter toeganklikheid bied, is ’n mite – dit bevoordeel slegs Engelse moedertaalsprekers. Deur Afrikaanse onderrig af te skaal, word niks bereik nie, want regte kan nie bevorder word deur enigeen van hulle regte te ontneem nie.

Die instellings is ook by regsaksies oor soortgelyke diskriminerende besluite teen Afrikaans as onderrigmedium aan die Universiteite van Suid-Afrika, Pretoria en Stellenbosch betrokke. Vandag se uitspraak sal uiteraard dié regsaksies beïnvloed – AfriForum en Solidariteit se regspanne sal vandag se uitspraak bestudeer en aanbevelings oor verdere aksies aan die hand hiervan maak.