dd6c172a-13a7-427d-82ce-7d6c1508a95d
| DeurAfriForum

Wesfrontvasbyt: terugkyk en vorentoe kyk

René van der Vyver was een van die 20 jongmense wat onlangs die Wesfrontvasbyt gestap het. Sy vertel van die lesse wat sy geleer het en waarom dit waardevol is.

’n Groep jongmense van AfriForum Jeug het vanjaar weer die hitte en lang grondpaaie met stapskoene aangedurf om van slagvelde op die Anglo-Boereoorlog se wesfront te leer. Hitte-uitputting, blase op die voete, sonbrand en irriterende steekgrasse in jou kouse was aan die orde van die dag. Wat het ons dan besiel om te sê dat ons op die Wesfrontvasbyt wil vasbyt!?

Ons toerleier dr. L.J. Bothma – beter bekend as oom Louis of oom Botties – het met sy verreikende kennis en hartstog vir die Afrikaner se volksgeskiedenis onder meer ’n teksvers aangehaal wat my antwoord op die laasgenoemde vraag is – Jeremia 31:21: “Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers, let op die grootpad, die pad wat jy geloop het.” Wat oom Louis hieroor sê, maak soveel sin. Hoe verder jy in die geskiedenis kan terugstap, hoe verder kan jy die verloop van gebeure in die verlede voor jou sien. Dít dien dan as mylpale; as padwysers vir die pad wat jy nou moet loop.

As dit vir jou onbenullig klink omdat jy van mening is dat dinge van die verlede in die verlede hoort en die uitdagings van vandag nuut is, dan kan ek jou verseker dat oom Louis se navorsing die volgende stelling bevestig: “Deur al die jare is dit dieselfde toneel, net ander narre op die verhoog.” Vergelyk maar net die Jameson inval (1895–1896) en die staatskaping deur die Guptas (2009–2018). Dié twee gebeure is wat tyd betref ver van mekaar verwyderd, maar in terme van aard skrikwekkend soortgelyk.

“Jy kan óf geskiedenis maak, óf skandes maak,” het oom Louis telkemale tydens die Wesfrontvasbyt gesê. Dit is net een van die twee. Soos ons deur die lae van ons volksgeskiedenis werk, begin ons vlam sterker brand – die vlam om geskiedenis te maak.

Lae van geskiedenis? Ja, oom Louis verduidelik mooi dat die geskiedenis in lae op mekaar gepak is. Alles het ’n aanloop, verloop en afloop. Dus moet jy ten minste drie lae geskiedenis bestudeer om iets regtig in perspektief te kan sien. En sjoe, ons Wesfrontvasbyters kon van lae en lae en lae geskiedenis by oom Louis leer. Dit is ’n voorreg om na iemand se stories te luister wat sy lewe aan navorsing oor ons volksgeskiedenis gewy het. Daaruit vloei vertellings voort wat ’n impak maak en sowaar vashaak in jou geheue, jou hart en jou wese.

Vertellings van stories wat kort-kort by die geskiedenisaanbod bygelas word:

  • In De la Rey se memoires vertel hy van ’n Van der Merwe wat by die Slag van Driefontein (10 Maart 1900) vir hom gevra het om nog kans te gee voor hulle moet terugval, want hy het nog drie patrone oor, so hy kan nog drie Britte skiet.
  • Lord Roberts het vier jaar ná die Slag van Paardeberg weer dié slagveld gaan besoek en by Vendusiedrif gekamp. Daar het ’n oom Groenewald gewoon en hy was besig om velskoene te maak toe mense hom kom inlig dat lord Roberts daar is. Oom Groenewald het nie eers opgekyk nie; bloot aangegaan met sy velskoene en net gesê: “Ja-nee, hy is maar ’n ou baie klein mannetjie.”

Talle kort stories soos hierdie tesame met ’n eerstehandse ervaring van die geharde omgewing waarin die Boere teen die oormag van die Britse Ryk moes baklei, het ons vlam nog sterker laat brand; dié vlam wat nog altyd binne die Afrikaner brand om te streef na vryheid. Ons wil nie oorheers word nie. Ons wil nie afhanklik wees van ’n regering wat skandes maak nie. “Gee vir iemand sy geskiedenis, en dan gee jy vir hom ’n toekoms,” sê oom Louis, want hoe verder jy in die verlede teruggaan, hoe beter sien jy die pad die toekoms in. AfriForum Jeug wil eienaarskap neem van ons eie toekoms en daarom was die Wesfrontvasbyt van onskatbare waarde: om te kon terugkyk en nou met hernieude trots en geloof te kan vorentoe kyk.

  • René van der Vyver is die veldtogbeampte en woordvoerder vir AfriForum Jeug. René het ’n meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme, geskep omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee ook die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy op Twitter en Youtube (@realReneKruger) standpunt inneem oor aktuele kwessies.