Deur Frans de Klerk

Op 9 Augustus 1994 word die eerste Nasionale Vrouedag in Suid-Afrika gevier. Hierdie dag herdenk ’n optog in 1956 teen wetgewing wat swart Suid-Afrikaanse vroue verplig het om passe te dra. In 2006 word dié optog herhaal om die 50ste herdenking daarvan te vier. Vanjaar sal dit presies 65 jaar ná die oorspronklike optog wees.

Gegewe die oorsprong van Nasionale Vrouedag, mag die vraag miskien opduik oor watter aandeel die Afrikaner het om daarin te vier. Dit blyk dat hierdie dag ’n kultuurspesifieke oorsprong het en dus kultuurspesifiek herdenk moet word.

Dit is egter nie die Afrikaner se uitgangspunt nie. Afrikaners herdenk Nasionale Vrouedag effens anders as die res van Suid-Afrika. Eerder word die rol van Afrikanervroue in ons geskiedenis gevier, in sowel die hede as die toekoms.

Ongelukkig bevind Suid-Afrikaners hulself in ’n unieke situasie waarin sekere dele van die geskiedenis bo ander geprioritiseer word. Dit lei daartoe dat die kritiese rol van Afrikanervroue vergete gaan of bloot net nooit meer geleer word nie. Ek moedig die leser dus aan om die ongelooflike stories oor die onderwerpe hier onder te lees. Stories soos hierdie word nie net gelees ter herdenking nie; dit dien ook as motivering vir die toekoms.

Hendrina Joubert is sowel ’n Afrikanerheld as rolmodel. Sy dien as katalisator vir een van die grootste Afrikaneroorwinnings in ons geskiedenis. Het jy al ooit gedink: Wat sou gebeur het as Hendrina nie vroeg daardie someroggend op 27 Februarie 1881 gesien het hoe die kakies Majuba-berg bestyg nie?

Min ander volke ken die uithouvermoë en krag van elke vrou in Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe. ’n Hartseer verhaal, maar in die silwer randjie kan ’n mens tog die moeilikste bydrae tot die Afrikaner se voortbestaan herdenk. Dit is slegs ’n volbloed Afrikanervrou wat in die moeilikste stadium van haar lewe steeds sal volhard in haar vryheidsdrang en daarop al aandring dat dit die oorlog voortduur.

Ná die Tweede Wêreldoorlog was die hele wêreld relatief arm. Steeds was daar die behoefte in Suid-Afrika om te ontwikkel. Skole, universiteite en kerke moes gebou word en waar hierdie geld vandaan moes kom, het niemand geweet nie. Dit was egter deur die inisiatief van Afrikanervroue, wat begin het om koeksisters te bak en verkoop, dat hierdie groot projekte aangepak kon word. Regoor Suid-Afrika het vroue bymekaar gekom om deeg te knie, te vleg, te bak en te verkoop. So finansier Afrikanervroue dan ’n groot deel van dit wat vandag nog in Suid-Afrika van kritiese belang is.

Die Afrikanerdorpie Orania is bekend vir sy unieke openbare kuns en kultuur. Maar hoe vestig ’n mens basies enigiets volhoubaar in ’n plek wat 30 jaar gelede ’n spookdorp was? Vir ’n antwoord hierop sal jy moet kom gesels met die Afrikanervroue wat ook Orania-inwoners is. Dié vroue staan nie terug om monumente op te rig, konserte te reël of die dorp te versier nie. Juis ook die Koeksistermonument, ’n monument ter herdenking van die kritieke rol van Afrikanervroue, is deur Afrikanervroue opgerig. So vat hulle dan wat eens ’n spookdorp was, van koeksister na konsert na karnaval.

Daar is dus geen rede vir die Afrikaner om nié Vrouedag te vier nie. Ons vroue is die ruggraat van ons volk en hou die Afrikaner penregop en vlymskerp.

A.G. Visser beskryf ’n Afrikanervrou die beste:

Die vrou

Die vrou is die sout van die aarde,
Die suurdeeg, beskou op die keper:
Al hoër steeds rys sy in waarde:
Sy’s beide die sout … en die peper!

Wie ter wêreld verstaan ooit die vrou,
En wie sal haar geheimenis weet?
Haar verjaarsdae moet jy onthou,
Maar haar ouderdom moet jy vergeet!