1-A-campus
| DeurAfriForum

TrauMatiese gevolge van Transformasie

Met die Universiteit Stellenbosch se besluit om die gebruik van ’n minderheid se moedertaal te beperk, wonder ’n mens watter vryheid volgende verbied of beperk gaan word. Ek meen, hoe anders raak jy meer inklusief as deur meer dinge te verbied, dis mos logies, nè? Die verbod geld ook in effek tussen studente wat dieselfde moedertaal deel. Met al die ideologiese opleiding (propaganda is dalk ’n akkurater term) wat deur die Universiteit aangebied word, word daar ernstige beperkings geplaas op wat jy mag dink en nou ook op die taal waarin jy mag kommunikeer, selfs tot buite akademiese ruimtes.

Dis ’n baie interessante tyd waar die vraag ontstaan: “Wat gaan met my (of my kind) gebeur as hulle die ‘verkeerde’ gedagte het en in die verkeerde taal vra vir die sout by ’n koshuis-etenstafel?”

Hierdie onlangse gebeure kan opgesom word in een woord: fascisme, die outokratiese beheer van ’n omgewing en inligting sowel as die beperking van idees wat nie met dié van die instelling of groep strook nie. Die feit dat die koshuisdame sê hulle leef in vrees, bring weereens 1930’s-vibes na vore. Die US wat, by die skryf van hierdie artikel nog nie die insident ontken het of beloof het om dit te ondersoek nie, wys weereens sy dubbele standaarde. Was die situasie omgekeerd, was Wim al op sy knieë in die strate om jammer te sê namens die US, soos destyds met #FeesMustFall.

Vanuit ’n regsoogpunt haal ek dele 6.3, 6.5 en 7.2.5 van die nuutste taalbeleid van die US aan (kry die dokument by http://www.sun.ac.za/english/Documents/Language/Finale%20Junie%20Taalbeleid%20November%202016.pdf):

6.3 Die US respekteer die tale wat studente en personeellede gebruik, en erken hulle taalvoorkeure en taalvaardigheidsvlakke.

6.5 Die US gebruik sy gekose tale op so ’n wyse dat dit alle studente, personeellede en ander belanghebbendes insluit.

7.2.5 In koshuise en ander leefomgewings word taal op so ’n wyse gebruik dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.

As die US nie by sy eie reëls hou nie, hoekom moet studente? Is sekeres meer gelyk as ander? En waar is die integriteit, of is hierdie konsep uitgetransformeer by hierdie progressiewe akademiese instelling?

Sedert 2015 veg AfriForum Jeug vir een hoofdoel, dat die US by sy eie reëls moet hou en dit gelyk onder studente moet toepas. Tog is dit na ses jaar steeds nie die geval nie: kyk gerus na die kort onderhoud in 2015 in verband met dieselfde uitdaging op Maties: https://www.youtube.com/watch?v=oo-8FNKA27g.

Indien jy meer wil weet of betrokke wil raak by AfriForum Jeug se tersiêre of dorpstrukture, kan jy ’n e-pos stuur na jeug@afriforum.co.za, met jou kampus, dorp of stad se naam as onderwerp. Kom ons werk saam om gelykheid tussen mense en groepe te bevorder eerder as om haat te kweek soos baie instellings tans doen vir politieke gewin. Kom ons maak jonkwees weer lekker vir almal!

Bernard Pieters

Bestuurder

AfriForum Jeug