depositphotos_1163676-stock-illustration-fruit-garden

Regstellende aksie: Gehaltemoedertaalonderrig is die oplossing

deur Henno Nel

Regstellende aksie, die klip wat soos ’n galgtou om elke jong Afrikaner en nie-swart mens se kop hang.

Ondersteuners van regstellende aksie, oftewel swart ekonomiese bemagtiging (SEB), is van mening dat die doel van regstellende aksie is om diegene wat in die verlede benadeel is op dieselfde vlak te bring as dié wat nie in die verlede benadeel is nie.

Maar kom ons beoordeel SEB aan die hand van die riglyn wat ons in Matteus 12:33 vind: ’n Boom word aan sy vrugte geken.

As ons kyk na die boom van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging – veral in die openbare sektor – dan is die boom onvrugbaar en as daar ’n vrug is, dan is die vrug vol wurms, korrupte wurms.

Soms voel dit vir my dit is nie ’n boom nie, maar ’n onkruid, ’n onkruid wat die geleenthede van ander studente en werkendes af wegneem, bloot omdat hul velkleur nie reg is nie.

Iets wat al die voeding en so ook die potensiaal uit die goeie grond uittrek en die potensiële vrugbare bome later doodsmoor.

AfriForum is nie teen die bemagtiging van mense nie, maar ons is van mening dat die manier hoe swart ekonomiese bemagtiging tans geïmplementeer word nie volhoubaar is nie en dat dit in werklikheid slegs korrupte politici en hul families bemagtig.

Nou kan ons vir ons self die vraag stel: Hoe kan dit verander word sodat dié onkruid eerder ʼn boom word wat die gewenste vrugte kan dra?

Die boom benodig kunsmis en baie voedingstowwe.

Een soort kunsmis wat die boom sal benodig, is gehalte-onderrig van grondslagfase af.

Ongelukkig sit Suid-Afrika met ’n onbevoegde minister van Basiese Onderwys. Dit verduidelik waarom 80% van openbare skole disfunksioneel is. Hierdie swak stand van skole benadeel in baie gevalle juis dieselfde persone wat veronderstel is om deur regstellende aksie bemagtig te word.

Die manier hoe swart ekonomiese bemagtiging tans geïmplementeer word, spreek glad nie die wortel van die probleem aan nie.

As ’n mens na die top-10- presterende openbare skole kyk, is agt daarvan Afrikaans en die meerderheid van die leerders ontvang moedertaalonderrig.

Die meerderheid van die leerders in die disfunksionele skole ontvang egter dikwels nie moedertaalonderrig tot graad 12 nie.

Maar vir die regering om nog skole te bou, die disfunksionele skole reg te ruk, om moedertaalonderrig te prioritiseer en om meer moeite te doen om onderwysers van lae presterende skole op te lei en met die regte toerusting te bemagtig, is veels te veel werk. Dus is dit veel makliker vir die staat om sulke tipe wetgewing soos swart ekonomiese bemagtiging in te bring. Om eerder kunsmatige gelyke uitkomste te probeer skep as gelyke geleenthede.

Dalk is dit tyd dat die staat ook besef dat gelyke geleenthede veel swaarder as gelyke uitkomste weeg.

Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum, en Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, het op hierdie beginsel van gelyke geleenthede aanspraak gemaak toe hulle in November by die Verenigde Nasies verskeie raswette veroordeel en AfriForum se standpunt verdedig het.