behnam-norouzi-UDJPrpY5YGA-unsplash

Reënboogdiskriminasie

deur Leandrè Steenberg

Is daar ’n is-gelyk-aan-teken tussen verteenwoordiging en gelykheid?

Kwotas en ander wetgewing met betrekking tot verteenwoordiging en inklusiwiteit kan eenvoudig nie geregverdig word nie. Verteenwoordiging is die idee dat die nasionale demografie van Suid-Afrika verteenwoordig moet word in elke aspek van die samelewing.

In die Grondwet van Suid-Afrika is daar eerstens duidelik gestel dat daar nie deur die regering of enige ander instelling of individu teen iemand gediskrimineer mag word op grond van ras nie. Dit beteken dus dat wette wat ingestel word geen rasgroep mag bevoordeel of benadeel nie. Daar is wel ook voorsiening gemaak vir regstelling in artikel 9(5). Dit beteken dat raswette wel in orde is indien dit gemik is op regstellende aksie teenoor rasgroepe wat voorheen benadeel is. Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, skryf in ’n vorige verslag dat enige wet dus aan een van die twee voorwaardes moet voldoen. Die wet moet óf regverdig wees en gelykheid bevorder oor alle rasgroepe óf die wet moet regstellend van aard wees.

Wanneer gekyk word na die wyse waarop verteenwoordiging in wetgewing soos die arbeidsektor ingestel word, kan jy sien dat daar slegs aan ras aandag gegee word en geen eis gestel word om vorige onreg te herstel nie. Daar word nooit van werkgewers geëis om ondersoek in te stel na ’n voornemende werknemer om sodoende vas te stel of die werknemer werklik ooit benadeel was of nie. Dit is dus duidelik dat verteenwoordiging nie afgedwing kan word op grond van regstelling nie. Die vraag wat oorbly is dan of verteenwoordiging werklik gelykheid bevorder.

As ek ’n boksie Smarties het, kan ek sê dit is reënboogkleurig, selfs al is elke Smartie nie al die kleure van die reënboog nie. Dieselfde denkfout word gereeld gemaak wanneer gekyk word na diversiteit in Suid-Afrika. Die gedagte wat grootliks heers, is dat die nasionale demografie van Suid-Afrika verteenwoordig móét word in elke instelling en samelewingskring. Hierdie gedagte moet ten sterkste bevraagteken word. Suid-Afrika kan steeds bestempel word as ’n reënboognasie selfs al kan elke instelling, as individuele eenheid, dit nie bewys met ’n glansende pamflet waaruit die inklusiwiteit en verteenwoordiging van elke rasgroep straal nie. Dit is ’n oorvereenvoudigde oplossing vir ’n baie komplekse uitdaging waarmee Suid-Afrikaners sit. Die uitdaging van multikulturalisme reik veel dieper as ’n voorbladprentjie op ’n instansie se brosjure. Ons sit in werklikheid steeds met die vraagstuk van hoe kulture en rasgroepe goed kan integreer, en mekaar erken en respekteer sodat hul saam kan bestaan in ons plekkie hier onder die son.

Prof. H.G. Stoker skryf dat ’n wêreldbeeld slegs kan verander deur ’n verandering van hart. Die veelkleurige prentjie wat skitter op die tuisblad van ’n instansie se webwerf het nog nooit enige werknemer se hart verander nie. Die uitdaging wat ons tyd aan ons stel, is nie om aan die buitekant inklusief te lyk nie. Ons uitdaging is om te bou. Ons is ten diepste gewortel in kultuur en erfenis. Die Afrikaner het gevlug na vryheid, oor berge getrek met ossewaens en selfs ’n hele nuwe taal geskep wat tot op tersiêre vlak standhou. Dit alles kan nie net weggegooi word in een generasie nie. Organisasies moet toegelaat word om te integreer op ’n organiese wyse om te bou aan ’n veelkleurige toekoms. Daar is mooi in die natuurlike dinamika en vorming onder mense. Die unieke pad wat elke entiteit uitkap om vorentoe te beweeg. Voorwaartse uitbreiding vereis dat samelewingskringe en instellings op mekaar steun en afhanklik raak op ontsettend komplekse wyses. Elke instelling en samelewingskring behoort dus die gelyke kans gegun te word om te floreer.

Elke entiteit behoort die gelyke geleentheid te hê om te kan groei in sy eie veld.

Wetgewing wat verteenwoordiging afdwing, bevorder dus glad nie gelykheid nie. Meer nog, verteenwoordiging belemmer Suid-Afrikaners se enigste hoop tot gelykheid en inklusiwiteit. Dit moet Suid-Afrikaners dus opgewonde maak dat AfriForum die vals beeld van ’n inklusiewe Suid-Afrika bestry. Dit is dan ook een van die redes waarom AfriForum einde November die VN toegespreek het. Die werklikheid van die stand van ons land, moet ook internasionaal verkondig word. Verteenwoordiging is maar net van die wetgewing wat beweer dat daar van ons ’n reënboognasie gemaak word, maar wat in werklikheid van ons ’n land met reënboogdiskriminasie maak.