Untitled design (10)
| DeurAfriForum

Protesaksies op kampus in 2022

Nina Breytenbach se meningstuk was een van die toptien skrywes van AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!

Die Oxford-woordeboek definieer ’n protesaksie as ’n openbare vertoon van verset teen optrede of idees, gewoonlik van politieke aard. Die vraag is of protesaksies ’n doeltreffende vorm van verset vir minderheidsgroepe op kampus is.

Daar is talle gevalle dwarsdeur die geskiedenis waar studente suksesvolle protesaksies gelei het om verandering teweeg te bring in hulle gemeenskappe, ongeag of die verandering dan goed of sleg was. So vroeg as 1507 het studente in massas gemobiliseer nadat die Universiteit van Padua hulle vakansie gekanselleer het, en so onlangs as Mei 2022 het studente aan die Universiteit Stellenbosch teen beweerde rassisme gemobiliseer. Dié aksies het almal egter twee goed gemeen: ’n gemeenskaplike doel en getalle. Dit is nie ’n geheim dat Afrikaners ’n minderheid in Suid-Afrika is en dat Afrikaanse studente in die minderheid op kampusse is nie. Dit sou dan lyk of protesaksies vir minderheidsgroepe in Suid-Afrika nie ’n doeltreffende manier is om verandering teweeg te bring nie, maar hierdie artikel argumenteer die teendeel – indien ons die lens verander waarmee ons na protesaksies kyk.

Wanneer ’n mens aan ’n protesaksie dink, is jou eerste gedagte dalk die beeld van massas mense met plakkate wat luidrugtig hulle eise stel. Die definisie leen hom egter ook tot ’n tweede betekenis: ’n groep mense wat onbeskaamd teen die status quo bly bestaan. In ’n land soos Suid-Afrika beteken demokrasie dikwels dat die meerderheid regeer met min of geen inagneming van minderhede. Op kampusse is dit nie anders nie. Die manier om hierdie neiging teen te staan is vir minderhede om onbeskaamd te bly voortbestaan deur verenigings te stig, byeenkomste te hou en aanspraak te maak op hulle regte. Elke vereniging wat op kampusse gestig word en ’n minderheid verteenwoordig, is ’n openbare verset teen universiteitsowerhede wat hulle bestaan wil ontken. Elke student wat daarop aandring om onderrig in sy of haar huistaal te ontvang, is ’n openbare vertoon van verset teen die verengelsing van tersiêre onderwys. Elke AfriForum-tak is ’n openbare vertoon van verset teen sommige politici se uitlatings dat die Afrikaner nie bestaansreg in Suid-Afrika het nie. En elke standbeeld wat bly staan, is ’n openbare vertoon van verset teen die neiging dat ongunstige dele van die geskiedenis uitgevee kan word.

Wanneer ons wegdoen met die tradisionele idee dat protesaksies noodwendig deur massas gehou moet word, maak ons die deur oop vir studente om hulle op kampusse te verset teen die onderdrukkende status quo wat minderheidsgroepe se regte wil ontken, deur verenigings te stig wat aktief die status quo teenstaan. Dit skep weer ruimte vir eendersdenkende studente om bymekaar te kom. Wanneer eendersdenkende studente begin saamtrek, vermeerder hulle getalle. Wanneer getalle vermeerder, begin verenigings se stemme al hoe meer gewig dra. Kort voor lank kry verteenwoordigers plekke in die SR om verder te kan omsien na minderheidsbelange en uiteindelik is daar ’n massa groot genoeg om ’n universiteitsbestuur of plaaslike regering te dwing om ag te slaan op die protesgangers se eise.

Protesaksies op kampusse is steeds relevant in 2022, en veral vir minderhede. Ons moet net ons verstaan van protesaksies ’n bietjie verander en dit aanpas by ons realiteit. Om deel van ’n minderheid in Suid-Afrika te wees en onbeskaamd te bly voortbestaan is op sigself ’n protesaksie. Die vorm wat protesaksies op kampusse aanneem, is die stig van verenigings en die skep van bymekaarkomplekke vir eendersdenkende mense. Wanneer ons saamstaan, het ons die vermoë om ons eie toekoms te verseker.

Nina Breytenbach is ’n LLB-student in haar finale jaar aan die Universiteit Stellenbosch. Die pad na haar hart is ’n warm koppie koffie en enige iets met sjokolade in – veral bruintjies. Sy is mal oor diere en as dit nie vir die praktiese gevolge was nie, sou sy al die DBV se diere wou aanneem. Haar droom is om ’n advokaat te wees en te spesialiseer in openbarebelanglitigasie, spesifiek in kinderregte. Sy is op haar gelukkigste wanneer sy in die see kan swem of in Jonkershoek kan gaan draf. Sy is op haar produktiefste wanneer sy in die universiteit se biblioteek gaan sit en werk. Sy glo die regsfakulteit is nie net die mooiste gebou op kampus nie, maar ook die fakulteit met die heel beste mense (maar sy mag dalk bevooroordeeld wees oor haar laaste stelling, meen sy).

Instagram-handvatsel: nina_breytenbach