Ons veg vir die behoud van die PUK-kultuur

Na aanleiding van die EFF-studentebevel se optog op die PUK-kampus om amptelik daarop aan te dring dat Engels as enigste primêre onderrigtaal aanvaar word, voel ons genoop om namens die Afrikaanse studente en gemeenskap hierop te antwoord.

Dit is teleurstellend dat die EFF die ontwikkeling van moedertaalonderrig wil onderdruk, ten spyte van breë internasionale ooreenstemming oor die waarde van moedertaalonderrig op alle vlakke van onderrig. Artikel 29 van die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal voorts dat alle burgers waar redelik op onderrig in die taal van hulle keuse geregtig is. Moedertaalonderrig is dus nie net beste praktyk wêreldwyd nie, maar ook die grondwetlike reg van elke burger van Suid-Afrika.

Dit is uiters kommerwekkend dat klein splintergroepe soos SASCO, die EFF-studentebevel en ander soortgelyke groepe die ontwikkeling van inheemse Afrika-tale wil onderdruk ten gunste van koloniale Engels.  Dit het is in die 20ste eeu bewys dat ’n gemeenskap ’n taal tot volledige akademiese taal kan ontwikkel mits die ruimte daarvoor gegun word, soos die geval met Hebreeus, Hindi en Afrikaans.  Dit is jammer dat die bogenoemde splintergroepe die ontwikkeling van Tswana en die ander nege amptelike (inheemse) landstale wil onderdruk deur op “Engels en slegs Engels” aan te dring. So ’n aandrang op uitsluitlik Engels bots lynreg met die departement van hoër onderwys se hersiene taalbeleid, wat stel dat universiteite verplig is om die taal van instruksie uit te brei ten einde amptelike inheemse tale in te sluit.

Ons eis dus die volgende van die NWU:

  1. Dat die Afrikaanse taalaanbod wat tans by die NWU gebied word geensins verwater word nie. Dit sal tragies wees as die huidige taalaanbod vervang word deur uitsluitlik Engels as onderrigmedium te verkies, of as die NWU Afrikaans de facto
  2. Dat die NWU-bestuur die eksklusiwiteit van ’n uitsluitlik Engelse taalbeleid, soos wat op verskeie ander universiteitskampusse in Suid-Afrikaanse kampusse sigbaar is, aktief teëstaan. Dit is duidelik dat baie NWU-studente ver reis omdat die eksklusiewe taalbeleide van universiteite nader aan hul ouerhuise uitsluitend is. Die huidige inklusiewe universiteitskultuur moet so ver moontlik behoue bly; ’n uitsluitlik Engelse taalbeleid druis teen die wese van die huidige universiteitskultuur in.
  3. Dat die NWU verdraagsaamheid op al drie sy kampusse bevorder deur uitdrukkings van haat soos dié van die EFF-studentebevel tydens verlede week se optog streng te bestraf. Indien ons die NWU waarlik ’n tuiste vir alle studente wil maak, is dit nodig om daadwerklik teen uitsprake van haat op te tree en dit nie dit bloot te ignoreer nie – soos wat die NWU se verstekoptrede geword het. As die NWU nie teen haatspraak op sy kampusse optree nie, sal ons by AfriForum Jeug nie skroom om ons na die hof te wend nie.

Ons ondersteun die huidige wêreldklastaalbeleid, omdat dit geen eksklusiwiteit bewerkstellig nie, maar op ’n waarlik inklusiewe wyse aan persone uit verskeie agtergronde die geleentheid bied om onderrig te ontvang. Dit moet eerder uitgebou en ondersteun word deur die NWU-bestuur, eerder as om dit te vervang met ʼn minder inklusiewe Engels-alleen taalbeleid.

Ons waarsku die NWU om nie die Afrikaanse gemeenskap te vervreem of openlik te antagoniseer nie.  Sowel ons as die NWU is terdeë bewus van die getroue finansiële en ander ondersteuning wat die Afrikaanse gemeenskap sedert 1919 aan die dorp Potchefstroom en die universiteit in Potchefstroom gebied het en steeds bied.  Pogings om Afrikaanssprekendes van alle rasse as die vyand van vordering af te maak, sal lei tot grootskaalse onttrekking van dié ondersteuning en betrokkenheid, en dit sal bitter wees om te sien hoe die NWU hierdie gifbeker uit eie keuse drink.