Untitled design (5)
| DeurAfriForum

Ons as Afrikaners

Francis Olivier se meningstuk was een van die toptien skrywes van AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!

Deur die loop van die eeue was die Afrikaner nog altyd bekend vir hul hardwerkendheid, hul deursettingsvermoë, vernuf, strewe na vryheid en – die heel belangrikste – hul geloof en vertroue in die almagtige God. Hulle het diep spore in die geskiedenis getrap, en selfs al het oorloë, hongersnood en verdrukking hulle in die gesig gestaar, het die Here hulle steeds bewaar en ’n uitweg aan hulle verskaf. In swaar en moeilike tye was die Here met hulle gewees. In tye van teëspoed en verdrukking het Hy hulle nie verlaat nie. Hulle was keer op keer deur ’n louteringsproses, soos silwer gelouter word in ’n verterende vuur. Al is hulle geskroei, het hulle nie tot as verbrand nie, maar is gereinig.

Die Afrikaner is ’n interessante nasie. Hulle stam van verskeie Europese nasies af, maar tog het hulle ’n eie taal, Afrikaans. Hul kultuur is ook uniek en bestaan uit ’n samesmelting van verskeie ander kulture waarmee hulle in aanraking gekom het. Hulle word ook gekenmerk as die afstammelinge van mense wat Europa vir altyd verlaat het om ’n wildernis vol leeus te kom tem. Baie het dit getrotseer ter wille van ’n sprankie hoop om ’n toekoms hier vir hulle en hul nageslag te kom uitkap.

Die erfenis wat hulle nagelaat het, is vandag steeds prominent, maar die meeste mense weet nie waarvoor om te kyk nie, en ander probeer dit ignoreer of – erger – bedek of ontken. Deur baie jare se swoeg en arbeid is infrastruktuur opgerig, onderrigsentrums geskep, literatuur geskryf, landerye bewerk en geleenthede geskep. Hoewel baie mense dit vandag geniet om die foute van die Afrikaner uit te wys en onder ’n vergrootglas te ondersoek, behoort hulle ook te onthou dat hulle dit net so geniet om deel te hê aan die stelsels wat deur die Afrikaner vir hulle geskep en ook betaal is.

Baie van die standbeelde wat opgerig is, vertel die verhale vanuit die geskiedenis sonder woorde. Ongelukkig ken min mense dié verhale. Vir hulle is dit net ’n kunswerk; meestal ’n koue, metaalfiguur wat ’n paar meter hoog troon en met nikssiende oë voor hom uitstaar. Deur die standbeelde te verwyder, word daar probeer om die Afrikaner en sy geskiedenis van mekaar te skei. Die Afrikaner het duur betaal vir sy vryheid. Land en vryheid is deur bloed gekoop; en baie van daardie bloed het uit onskuldige mense se are gevloei.

Om die Afrikaner van sy erfenis te skei, is soos om ’n boom by sy wortels af te kap. By wyse van spreke word ’n groot boom stadig maar seker ontwortel en dit is baie makliker om Afrikaners se denke te vul met propaganda. Hul identiteit word herdefinieer. Al kan die geskiedenis nie verander word nie, kan dit herskryf word en sodoende ’n vals beeld skep. Sonder sy geskiedenis het die Afrikaner ook nie ’n toekoms nie. In daardie opsig is dit baie makliker om sy denke te infiltreer en te definieer. Geskiedenis word herskryf sodat feite gevaarlik verdraai word. Belangrike gebeurtenisse word uitgewis..

Dis treurig en hartverskeurend om te sien hoe ’n volk, wat dit nog deur al die eeue deur gemaak het, stadig besig is om ten gronde te gaan weens ’n gebrek aan kennis. Die enigste hoop vir herstel is as hulle hul bekeer van die wêreldse plesier en genot, hul harte draai na die Almagtige en Hom smeek om genade en redding. Mag ons, soos ons voorsate, voor die Almagtige kniel en glo dat Hy vir ons ’n uitweg sal gee soos wat Hy nog altyd gemaak het vir dié wat Hom met hulle hele hart soek.

Francis Olivier is tans 23 jaar oud. Sy kom van Citrusdal af en studeer spraakterapie by die Universiteit Stellenbosch. Haar passies sluit in om musiek saam met haar suster te maak, perd te ry, kos en tuin te maak. Sy waardeer die natuurlewe baie en is dankbaar om in Suid-Afrika te kan woon. Sy is ook passievol oor geskiedenis en waardeer die opofferings wat haar voorouers eeue gelede gemaak het sodat Afrikaners vandag kan wees waar hulle is.