Maties-3
| DeurAfriForum

Moet Wim bly of gly?

Menseregteskendings teen Afrikaanse studente by die US

Frans de Klerk

Is universiteite teen Afrikaans gekant? Taalkwessies by Suid-Afrikaanse universiteite is nie ’n vreemde verskynsel nie. Keer op keer hoor ons van insidente op kampusse, by koshuise of tydens verwelkomingseremonies waar studente hul ontevredenheid oor taalbeleide en -opdragte uitspreek. Opvallend dat – tussen elf amptelike tale – dit herhaaldelik Afrikaanssprekendes is wat onderdruk word en wie se menseregte en menswaardigheid nie gerespekteer word nie.

Hierdie tendens is nie nuut by die Universiteit Stellenbosch (US) nie. Ná ’n insident in 2021 waar Afrikaanse studente belet is om Afrikaans te praat tydens ’n universiteitsgeleentheid, is die US in die spreekwoordelike kollig geplaas. ’n Soortgelyke insident vind in Februarie 2023 plaas – weereens word Afrikaanse studente deur US-verteenwoordigers belet om Afrikaans te praat, selfs tydens informele sosiale interaksies.

Die US verklaar egter met selfvertroue dat daar nie teen Afrikaanssprekende studente gediskrimineer word nie.

Prof. Wim de Villiers (rektor en visekanselier van die US) skryf: “Ek wil dit duidelik stel dat daar geen bepaling in die beleid is, of opdrag in die implementering daarvan, vir die verbod op die gebruik van enige spesifieke taal nie.”

Prof. De Villiers verduidelik dat die US inklusiwiteit en meertaligheid bevorder en dat menswaardigheid ononderhandelbaar gerespekteer moet word. Verder herinner prof. De Villiers die publiek daaraan dat hy reeds in 2021 “op rekord” om verskoning gevra het vir diegene wat moontlik negatief geraak is. Dit is dus duidelik dat die US van mening is dat die universiteit onskuldig is aan diskriminasie en reeds in 2021 om verskoning gevra het. Tog duur hierdie diskriminasie voort in 2023.

Ten spyte van die US se inklusiewe taalbeleide maak die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) op 14 Maart 2023 in ’n verslag bekend dat US-instellings wel teen studente gediskrimineer het. Volgens ’n meningsopname deur AfriForum Jeug blyk dit dat studente nie prof. De Villiers se verskoning van twee jaar gelede aanvaar nie. 80% van die studente wat aan die opname deelgeneem het, is van mening dat prof. De Villiers moet bedank.

Dit is weereens duidelik dat die publiek nie maklik gekul kan word met mediaverklarings vol politieke jargon en ou verskonings op selektiewe platforms nie. Inteendeel, dit lyk glad nie asof die US die nodige erns aan taalkwessies wy nie, maar eerder probeer om omstredenheid op tegniese punte te omseil. Die werklike probleem – die onderdrukking van Afrikaans – word nie aangespreek nie.

Met hierdie verwikkeling in gedagte word die kollig weer op prof. De Villiers geplaas. Vanaf 2021 tot vandag is daar geen vordering gemaak om hierdie anti-Afrikaanse kultuur by die US stop te sit nie. Allerlei verskonings en beleide val dalk mooi op die oor, maar die resultate daarvan spreek boekdele. Dit is juis hierdie resultate wat prof. De Villiers in ’n swak lig stel – soveel so dat ’n mosie van wantroue teen prof. De Villiers ’n besprekingspunt by die volgende sitting van die Universiteitsraad op 17 April 2023 is.

Dit is egter die verantwoordelikheid van die hele US-bestuur (die rektor ingesluit) om ’n veilige studente-omgewing te skep, vry van diskriminasie. Dit blyk dat die US tans meer bekommerd oor sy eie reputasie en beeld is as oor die welstand van sy studente. Verontskuldigings, verslae en verduidelikings kan nie as nakoming van verantwoordelikheid aanvaar word nie, veral nie terwyl dit studente as slagoffers tot gevolg het nie.

Leierskap wat reputasie hoër as welstand ag, is nie goeie leierskap nie. Miskien is dit dan wel tyd vir ’n verandering in leierskap … Maar die werklike probleem – onderdrukking van Afrikaans op kampusse – is ’n kulturele uitdaging wat dringend ’n oplossing benodig.