Kry perspektief deur konteks binne perspektief te plaas

Christi Kruger skryf in haar brief (Beeld, 19 Junie) dat ek ‘n “bietjie perspektief” moet kry en moet “besin” oor my “witheid”. Hoewel die aanval onnodig persoonlik is, is dit tog belangrik om nie net my standpunt nie, maar ook duisende ander jongmense se perspektief binne konteks te plaas. Kry perspektief deur konteks binne perspektief te plaas.

Die eerste gedeelte van die brief het niks te make met my brief wat verlede week in Beeld was nie, maar is wel `n duidelike aanslag op AfriForum Jeug omdat ons ons uitpreek teen rassediskriminasie en die huidige implementering van regstellende aksie.

Sonder om te veel vas te val in Kruger se bewerings oor waarom AfriForum Jeug ‘n wit plakkerskamp ondersteun het vir sogenaamde mediadoeleindes, moet ek egter noem dat AfriForum Jeug self geen media genooi het na die betrokke oorhandiging van toiletbenodighede en niebederfbare voedsel aan die kleuterskool in die weste van Johannesburg nie. Ons oogmerk is wel deurlopend om die persepsie, nasionaal en internasionaal, te probeer breek dat jy geregtig is op staatshulp bloot op grond van jou velkleur. Die BBC-mediagroep het AfriForum Jeug genader en navrae gedoen spesifiek rondom jong Afrikaners in Suid-Afrika. Hulle het mediadekking gegee toe ons ‘n kleuterskool in ‘n wit plakkerskamp gaan bystaan het wat afhanklik is van skenkings. Die oorhandiging van groen emmers vol benodighede was nooit ʼn onderduimse, agteraf gekonkel soos dit deur Kruger geskets word nie, maar bloot ʼn poging om tydelike verligting te bring vir kinders wat te wit is om vir staatshulp in aanmerking te kom.

Kruger se brief fokus veral op AfriForum Jeug se doen en late maar ek sal graag die debat wil verskuif na die olifant in die kamer – hoe die implementering van regstellende aksie en ander rasgedrewe beleide nie net wit mense nie, maar alle Suid-Afrikaners stil-stil vergiftig.

Laat ek gou eers “perspektief” skep: AfriForum Jeug is absoluut gekant teen rassediskriminasie omdat dit talle jong mense se geleenthede in Suid-Afrika belemmer. Talle voornemende studente kry nie toelating tot hul voorkeurstudierigtings nie, nie omdat hulle nie goed genoeg is nie, maar omdat hulle wit is. Beleid wat voorkeur gee aan sekere rassegroepe by toelating en beurstoekennings en regstellende aksie is honderd persent gegrond op kleur van ‘n persoon se vel. Die werklike faktore soos armoede, familie se inkomste en  ander sosio-ekonomiese faktore speel nie die bepalende rol nie. Ras en ras alleen is die kriterium. Ras is jou paspoort tot sukses, of jou vonnis tot minderwaardigheid, en is niks anders nie as stereotipering en diskriminasie. Skud jy jou kop? Hoeveel van Suid-Afrika se nuwe SEB-miljoenêrskinders, dink jy, is voorheen benadeel? Onthou, hulle is almal in die nuwe Suid-Afrika gebore …

Ingevolge die Verenigde Nasies moet die implementering van regstellendeaksie-beleide ‘n sonsondergangklousule bevat. Nêrens in Suid-Afrika se beleid is `n so ʼn klousule vervat nie. Dit beteken dus dat die beleid in sy huidige formaat net nooit tot einde sal loop nie en dat dieselfde groep geslag na geslag benadeel sal word, ongeag die sosiale of ekonomiese omstandighede van individue in die groep. Hou ook in gedagte dat die rassedemografie jaarliks verander en nooit ‘n konstante sal wees nie, wat beteken dat universiteite en sakesektore elke jaar hulle toelatings- en aanstellingskriteria sal moet hersien.

Dit is die grondslag van AfriForum Jeug se verwerping van regstellende aksie en rasseklassifikasie. Dit gaan ‘n groot stap verg, en ʼn behoorlike verskuiwing van perspektief, om die skade wat dit ons land berokken, en in die toekoms gaan berokken, af te weer.

Deur Henk Maree, Nasionale Voorsitter, AfriForum Jeug.