Untitled design (6)
| DeurAfriForum

Elk ʼn baksteen wat ons paaie voortbou

Mia le Roux se meningstuk is die wenner van AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!

As daar een ding is wat Afrikaners goed kan doen, is dit paaie bou. Selfs voor die volk nog ’n naam gekry het, het sy mense hul pad van die verre Noorde af na die donker suide van Afrika gevind en hul hier kom vestig. Toe hulle 200 jaar later weer ontwortel is, het hulle paaie gemaak waar daar nie paaie was nie in die hoop op ’n beter toekoms.

As daar ’n tweede ding is wat hierdie standvastige, trotse volk kenmerk, is dit die vermoë om hierdie gebeurtenisse vas te vang in die mooiste geskiedkundige argitektuur en herdenking: die Voortrekkermonument, Vrouemonument, die Afrikaanse Taalmonument, om maar net ’n paar te noem. Ja, voorwaar ’n ryke storie van deursettingsvermoë wat hier te vertelle is.

Vir my, as jong Afrikaner met ’n passie vir veral die behoud van hierdie geskiedenis en kultuurerfenis – ook ’n lid van verskeie kultuurorganisasies soos die Voortrekkers en Solidariteit Jeug – was dit dus omtrent ’n skok toe ek op jong ouderdom besef het dat bitter min mense werklik weet hoe die Afrikanervolk gekom het tot waar hul vandag is. Dit is nie juis asof daardie deel van Suid-Afrika se totstandkoming ’n veelbesproke onderwerp is, of nog ordentlike blootstelling en aandag in ons onderwysstelsel ontvang nie. Dit word immers oorskadu deur daardie “ander”tydperk wat sommer die 300 jaar van baklei vir onafhanklikheid en eie reg tot niet verklaar het, en 28 jaar later steeds die voorkeurverskoning vir die kleinste misstap is.

Met ons ryke verskeidenheid kulture is dit onvermydelik dat elke stam en groep hul eie geskiedenis, gedenktekens en tradisies het – so nou inmekaar verweef dat elkeen iewers iemand vyandig teengestaan het. Tog is almal in dieselfde bootjie, wie het dan besluit dat een groep se erfenis belangriker is as ’n ander? Waar grens die vier van ons verlede aan onverdraagsaamheid teenoor ’n ander? En waarom is dit net óns volksheldstandbeelde wat vernietiging moet word?

Sommer op ’n Donderdagaand ontvang my pa ’n oproep: “Meneer, sou u dalk belangstel om ’n vriend van die Vootrekkermonument te word vir ’n maandelikse finansiële bydrae tot instandhouding?”

Waar is die regering dan? Wie is eintlik verantwoordelik vir die instandhouding van hierdie plekke? En wat van die besoekergetalle wat veronderstel is om ’n gesonde inkomstevloei te genereer om hierdie tipe uitgawes te dek? Kruip hulle weg agter hul eie oningeligte skaamte vir ons verlede? Of is hulle deel van die mense wat op ’n streep die veiliger paadjies landuit gekies het na die “gevestigde Afrikanergemeenskappe” van volksvlugtelinge oorkant die water?

Dit is tyd dat ons ons prioriteite regkry: niemand anders kan, of gaan hierdie vir ons regruk nie.

In ’n era waar ons mense die “onderdrukker”-stempel moet dra (al is ons soveel meer as dit) en tog self net meer onderdruk word, is dit nie net ’n verantwoordelikheid nie, maar ’n plig om ons ruimte vol te staan. Nou meer as ooit moet ons die lig van ons vertroue uitstraal, met trots dra en so sigbaar wees soos daardie magtige toonbeeld op Monumentkoppie.

Daar is geen verskoning vir die verwaarlosing en verval van ons eie erfenis nie. Die beskerming van ons monumente en standbeelde lê in ons hande en harte, en mag dalk net die verskil wees tussen middelmatigheid en uitnemendheid. Dit is veral nie nou die tyd om slap te lê nie, want ons verdien nie om uit die geskiedenisboeke verwyder te word nie. Dit is tyd om ons uitdagings te volg soos die kaalvoetvrou wat oor die Drakensberge gestap het.

Mia le Roux is 17 jaar oud en in Hoërskool Randburg. Sy het begin skryf toe sy sewe jaar oud was, en hou daarvan om nuwe onderwerpe te ontdek. Sy is reeds vir 12 jaar ’n Voortrekker waar sy haar passie vir veral Afrikanergeskiedenis ontdek het. Dit is hoekom sy gedink het dit is belangrik om haar mening oor haar kultuurerfenis uit te spreek. Sy wil graag ná skool in ’n politieke rigting gaan studeer, maar vir nou neem sy deel aan ’n verskeidenheid aktiwiteite in skoolverband, soos atletiek, netbal, redenaars en koor.

Instagram-handvatsel: @mia_lerouxx