thomas-bormans-kNmlCjM3apA-unsplash
| DeurAfriForum

Die gras is groener aan die ander kant!

Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.

In Julie vanjaar het ek in Nederland, Duitsland en Oostenryk gaan toer. Dis mooi daar. Ek het teruggekom met ’n ander uitkyk op die lewe. Ek was in verwondering oor die groener gras anderkant die oseaan.

Ons het op O.R. Tambo-lughawe geland en ek het dadelik geweet: Nou is ek terug in Suid-Afrika. Die wagte by die lughawe het onder komberse gesit en opdragte aan ons passasiers geskree. “Foreigners that side; South-African passports that side!” swaai sy haar arm. In Amsterdam was dit nie so nie. Almal het professioneel gelyk en die stelsel het doeltreffend gewerk, al was die rye nog steeds lank.

Ek het teruggekom na ’n land wat verval, met min hoop.

Die afgelope tyd is beurtkrag ’n erge frustrasie, meer as ooit tevore. Die lug is wasig van die besoedeling. Die Tuks-studente is besig om te veg vir ’n plek. Die Potchefstroom-kampus se studenteraad lyk nie belowend nie. Bloemfontein se studente studeer in vrees. Johannesburg ontplof en brand af. Tshwane se vullis word nie verwyder nie. Die boere boer steeds in vrees. Kinders pleeg selfmoord in Gauteng. Skole word al hoe meer beheer. Die EFF skree: “Kill the boer!”

Ek verlang terug na die lande oorsee waar alles beeldskoon is en jou in verwondering laat. Ek verlang na die diepblou lug en die reuk van vars brood in die strate. Ek verlang na die veiligheid en die rustigheid.

Ek verlang na die beter land, maar dis nie my land nie.

Die gras is groener aan die anderkant, maar die grasvlaktes is min.

Die grond is vrugbaar, maar die grond vlek nie rooi nie.

Ek het ander tale gehoor, maar was op soek na Afrikaans. Ek was dankbaar toe ek ’n man in Afrikaans hoor vloek.

Die blomme se kleure is helderder, maar velde van kosmosse was nie daar nie.

Ek het in die De Hoge Veluwe Park gaan fietsry op die welbekende wit fietse. Ek het veilig gevoel. Tog was Suid-Afrika steeds daar. Daar is ’n beeld van Christiaan de Wet in die middel van die park. Die verhaal is dat De Wet die park besoek het en dit het vir hom soos ’n Suid-Afrikaanse woestynlandskap gevoel het. Paul Kruger en ander Afrikaners staan aan die voet van die beeld.

Die Duitse Alpe is meer besonders as enige bergreeks in Suid-Afrika en tog het ek die bergtop met my vellies uitgeklim.

Ons het in die Eibsee geswem; ek kon die bodem sien, maar op die strand kon ek nie kastele bou nie. Die strand het fyn klippies en nie sand nie.  

Ek het die kastele van Ludwig II gaan besoek: onbeskryflik groot, netjies en mooi. Die sandsteenplaashuise was nêrens te sien nie.

Die beeste se klokke het om hul nekke geklingel, maar die hadida se “ha-ha-hadida” was nie daar nie.

Die katedrale is asemrowend mooi met goud en patrone en beelde en sketse en loodglas. Die geboue is duisende jare oud. Ek kon die kerkdiens in Leiden bywoon; die kerk het gemeenskap gehad, maar het leeg gevoel.

By die treinstasie in die Duitse Alpe maak ons plek op die bankie vir die oom om te sit. Hy het ons verbaas aangekyk want gemeenskap daar is nie soos ek gemeenskap hier ken nie.

Ek verlang na die beter land oorsee, maar dis nie my land nie.

Marisha Hermann (21)

“Ek verlang na die beter land oorsee, maar dis nie my land nie.”