universiteite-knyp

Afskaf van registrasiegelde sal universiteite verder knou

Universiteite sukkel finansieel en die afskaffing van registrasie- en aansoekgelde soos deur die Onderwys Alliansie voorgestel word, sal instellings net geldelik verder knou.
AfriForum Jeug maak kapsie teen die Onderwys Alliansie, wat deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, saamgestel is.

Nie net sluit die alliansie verteenwoordigers van minderheidsgroepe uit nie, maar dit blyk ook heeltemal uit voeling te wees met wat die situasie in hoër onderwys is, het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

“Universiteite het dit duidelik gemaak dat hulle reeds in ’n finansiële penarie is. Daar is jaarliks betogings rondom die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS) wat onvoldoende is om aan die finansiële verwagtinge van universiteite en studente te voldoen. Om nou nog meer finansiële druk op universiteite te plaas, gaan slegs veroorsaak dat universiteitsgelde in geheel onbekostigbaar duur gaan raak,” meen Maree.

Hy het gesê AfriForum Jeug is nie oortuig dat die departement van hoër onderwys die implikasies van die afskaffing van registrasie- en aansoekgelde besef nie. Die departement moet hul fokus verskuif en seker maak die NSFAS-gelde word meer doeltreffend aangewend en bereik universiteite ook betyds.

Maree meen die departement moet ook kyk of die sowat R2 miljard wat verlede jaar nie deur die Setas vir opleiding gebruik is nie, nie eerder na die NSFAS oorgeplaas moet word nie. Op die manier sal meer behoeftige studente gehelp kan word om te studeer, het hy gesê.

Volgens Maree kan die blaam egter nie net op die departement geplaas word nie, universiteite moet ook hand in eie boesem steek. Meer eksterne skenkers moet gesoek word en universiteite se Alumni moet gemobiliseer word om bydraes te lewer. Alumni van talle universiteite voel tans vervreem weens geforseerde transformasie by die instellings. Alumni is ’n bron van inkomste waarop universiteite hulle meer kan toespits indien daar na kwessies soos die instandhouding van gesonde tradisies en Afrikaanse onderrig gekyk word.

Verskeie universiteite het die afgelope week aangedui dat die subsidie en NSFAS-bydra wat dit van die staat kry heeltemal onvoldoende is om aan die behoeftes van alles studente te voldoen.

Dit het tot gevolg dat klas- en studiegelde by die meeste instansies met tot 10% verhoog moes word. Universiteite is ook verplig om eie fondse te gebruik en bykomende finansiering vir ander studente te soek.

Prof. Adam Habib, rektor van Wits, het gesê ’n ernstige gesprek oor hoe om die hoër onderwyssektor te finansier, is nodig.
Hy het dit as ’n nasionale sistemiese probleem bestempel wat op die hoogste regeringsvlak bespreek moet word.

Habib het gesê al het die NSFAS die afgelope vyf jaar viervoudig toegeneem tot R9,5 miljard vanjaar, oorskry die behoefte steeds die beskikbaarheid. Hierdie bedrag is vir universiteit- sowel as kollegestudente.

NSFAS-befondsing het van R441 miljoen in 1999 tot R8,5 miljard in 2013 toegeneem. Die getal studente wat gehelp is, was in 2012 sowat 382 000 waarvan 194 000 by universiteite en 188 000 by kolleges was.

Hoër Onderwys Suid-Afrika (Hesa), wat al 23 universiteite in die land verteenwoordig, het onlangs in ’n verklaring gesê daar is tydens ’n vergadering met Nzimande en ander rolspelers ingestem is dat sekere kwessies rondom die NSFAS moet verbeter. Dit sluit in die administratiewe doeltreffendheid van die NSFAS en universiteite, beter kommunikasie tussen die NSFAS en instellings en behoorlike wetstoepassing waar studente oor NSFAS-toelaes en beurse op kampusse wil betoog.

universiteite-knyp