Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug dien klag in teen voorlopige studenteraad by Tuks

AfriForum Jeug het vandag ’n klag by die Universiteit van Pretoria (UP) ingedien om beswaar te maak teen die EFF Student Command (EFF SC) UP wat toegelaat word om op die studenteraad (SR) te dien. Dié klag, met ’n petisie wat deur meer as 2 000 mense onderteken is, eis dat die EFFSC UP gederegistreer word as studentevereniging en dat hul SR-kandidate geskors word. Die voorlopige uitslae van die SR-verkiesings, wat op 8 September bekendgemaak is, dui daarop dat agt van die tien SR-portefeuljes deur EFFSC UP-lede beklee word. Die tydperk om klagtes teen die voorlopige SR in te dien, het vanoggend gesluit. 

Die EFFSC UP maak hulself voortdurend skuldig aan intimidasie, aanhitsing tot geweld, die ontwrigting van studieverantwoordelikhede en die aanvuring van rassespanning. AfriForum Jeug het reeds op 19 April vanjaar verdoemende bewyse gelewer van ’n brief waarin die EFFSC UP ander studente op kampus dreig, maar die universiteit versuim nog steeds om op enige manier daarteen op te tree.

“AfriForum Jeug sal nie ’n SR erken wat liedjies oor moord sing nie. Die klag wat ons teen die voorlopige SR ingedien het, het sterk meriete om ondersoek te word en ons petisie, met meer as 2 000 handtekeninge, versterk ons saak. Ons neem kennis van die belofte deur die universiteit se woordvoerder dat hulle die petisie met erns sal ondersoek en verwag spoedige en deeglike terugvoer in dié verband,” sluit René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug, af.

AfriForum Jeug moedig steeds alle Tukkies-studente aan om die petisie te teken.