Voel studente vry? vra AfriForum Jeug Tukkies voor Vryheidsdag

’n Vryheidsveldtog by die Universiteit van Pretoria van stapel gestuur deur onder meer met bordjies om hulle nekke rond te loop waarop die regering uitgedaag word oor verskeie aspekte van vryheid, aangesien sommige jongmense voel hulle vryheid word deur die regering ingeperk. 

Vryheidsdag bring jaarliks op 27 April hulde aan die helde wat geveg het vir ʼn demokratiese Suid-Afrika en vryheid gaan dus gepaard met die beginsel van demokrasie. Volgens AfriForum Jeug Tukkies moet Vryheidsdag as ʼn maatstaf gebruik word om foute reg te stel wat steeds in die 20 jaar oue demokratiese Suid-Afrika gemaak word.

“ʼn Mens kan nie die talle verbeterings in die land sedert 1994 misken nie, maar daar moet ook gekyk word na hoe vry Suid-Afrikaners werklik is. Ons is onderworpe aan rassevooroordeel en diskriminasie as dit by universiteitstoelating en beursaansoeke kom. Ook ons reg op vryheid van beweging en assosiasie word ingeperk omdat ons nie veilig is nie, en mediavryheid word bedreig,” sê Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies.

AfriForum Jeug Tukkies het verskeie studente gevra wat vryheid en Vryheidsdag vir hulle beteken. Die meeste studente is min of glad nie bewus nie van al die vryheidsregte wat hulle het.

Die jeugorganisasie se Tukkies-tak moedig alle studente aan om op 8 Mei 2014 deel te neem aan hulle projek, Hoekom is ek vry? Studente sal dan ’n ballon die hemelruim instuur met ʼn boodskap oor vryheid, en wat studente vry laat voel in Suid-Afrika, daaraan vasgemaak.

Is jy Vry?
Is jy Vry?