Studenteleiers onderneem om Afrikaans en moedertaalonderrig te bevorder – teken Moedertaalmanifes

AfriForum Jeug en verskeie Afrikaanse studenteraadslede van regoor die land het ʼn manifes onderteken waarin hulle hulleself daartoe verbind om Afrikaans en moedertaalonderrig te bevorder.  Hierdie jeugleiers, wat drie huidige studenteraadsvoorsitters insluit, se standpunte en voornemens ter bevordering van Afrikaans is saamgevat in ʼn dokument wat as die Afrikaanse Moedertaalmanifes vir Jongmense bekendstaan. 

Die volledige manifes en die name van die studenteleiers wat reeds die manifes onderskryf het, is vandag op AfriForum Jeug se webblad, www.afriforumjeug.co.za, bekendgestel.

Die manifes is onderskryf deur onder andere Ernst Roets, uitvoerende hoof van AfriForum Jeug, asook die studenteraadsvoorsitters van die Universiteit van Pretoria, Universiteit van die Vrystaat en die Potchefstroomkampus van die Noord-Wes Universiteit.  Lede van AfriForum se Jeugkomitee en verskeie ander studenteraadslede het ook hulle name by die manifes gevoeg.

Die manifes bestaan uit twee dele wat onderskeidelik jongmense se standpunte en voornemens ten opsigte van Afrikaans uiteensit.

AfriForum Jeug se uitvoerende hoof, Ernst Roets, het gesê dat daar ʼn toename in betrokkenheid onder vandag se jongmense is wat kwessies soos Afrikaans aanbetref.  “Ons voel sterk oor ons taal en ons besef dat niemand namens ons gaan standpunt inneem as ons nie self bereid is om dit te doen nie,” het Roets gesê.  “Die feit dat so ‘n beduidende aantal studenteverteenwoordigers van verskeie Afrikaanse universiteite bereid is om hulle name skriftelik op so ʼn dokument te plaas, is bewys van die studente se ernstige gesindheid teenoor die saak”.

Die manifes stel dit dat hierdie jongmense van voorneme is om Afrikaans in hulle persoonlike en professionele lewe te praat, om hulle kinders in Afrikaans groot te maak en in Afrikaanse skole te sit, en dat hulle in Afrikaans sal skryf en publiseer wanneer hulle kan.

Roets het ook gesê dat AfriForum Jeug en ander studenteleiers reeds voorberei om met die Departement van Onderwys oor hierdie aangeleentheid in verbinding te tree.