Maties-tak-besig-met-skoonmaak-aksie

AfriForum Maties maak standbeeld skoon; sal hul kulturele erfenis sélf beskerm

AfriForum Maties het self ingespring om die standbeeld van J. H. Marais skoon te maak nadat dit gister gevandaliseer is. Dié aksie vorm deel van AfriForum Maties se veldtog om Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch (US) te beskerm.

“Betogers wil net aanhou om die kampus af te breek, maar ons sal vir Afrikaans opstaan. Ons sal eienaarskap van ons kultuurskatte neem en dit sélf onderhou en beskerm,” het Bernard Pieters, Maties se takwoordvoerder, gesê.

AfriForum Maties het ook ʼn privaat maatskappy aangestel om die standbeeld teen vandale te beskerm. Pieters het ook gesê dat studente nie die universiteit kan vertrou om Afrikaanse kultuur te beskerm nie.

“Dit is duidelik dat die universiteit nie optree teen onwettige, gewelddadige betogers nie. Ons sal nie toelaat dat ons kulturele erfenis vernietig word deur studente wat nie die historiese agtergrond van ons erfenis ken of waardeer nie.”

Universiteitsbestuur het vroeër verseker dat daar teen studente opgetree sal word wat afbreek, afbrand en akademiese aktiwiteite ontwrig, maar dit blyk leë beloftes te wees.

“Die US verraai ons kultuurskatte en doen niks om dit te beskerm nie. Waarom staan hulle net terug en kyk hoe standbeelde aan die brand gesteek word? Dis asof die US-bestuur nie teen oproermakers wil optree nie,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale verteenwoordiger, gesê.

AfriForum Maties nooi ander Afrikaanse studente uit om saam te staan en die kultuur te beskerm. Sluit by AfriForum Jeug aan deur “Maties” na 32687 te SMS (R1 per SMS).