Tukkie-spotprent

Tuks doen niks: Voeg jou stem by om die EFFSC UP te skors!

Die studenteregteorganisasie AfriForum Jeug sal aanhou druk op die Universiteit van Pretoria (UP) se bestuur plaas om die EFF Student Command van die UP (EFFSC UP) as studentevereniging te deregistreer. Meer as 4 000 mense het reeds AfriForum Jeug se petisie om die EFFSC UP te deregistreer onderteken en dit wys dat studente ernstig voel oor die saak.

Dit volg ná die EFFSC UP hulself skuldig gemaak het aan verskeie oortredings soos haatspraak, intimidasie en die mees onlangse insident – om toegang tot kampus vir studente, wat nie swart is nie, te weier. Die presiese woorde van ’n EFF-lid, wat by ’n kampushek gestaan het kan duidelik op die wydverspreide video gehoor word: “Only black students!”

“Die universiteitsbestuur kan nie hulself van hierdie insident distansieer nie. Van hulle studente is hierdeur benadeel en van hulle studente was by hierdie rassistiese voorval betrokke. Tuks doen niks en dit dwing ons om die vraag te vra: Is dit die UP se standpunt dat slegs swart studente welkom is op kampus? Of gaan hulle uiteindelik teen die skuldige partye optree en die EFF Student Command deregistreer?” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug se petisie vra vir optrede teen ’n studentevereniging wat hulself aan rasse-uitsluiting skuldig maak. Dit is ’n kontroversiële saak dat die waarnemende dekaan van studentesake intussen AfriForum Jeug se plakkate, wat inligting vanuit die universiteit se rassistiese beleide vertoon, op 5 Oktober afgekeur het omdat dit glo aan rassisme grens, terwyl die universiteitsbestuur hulself wil distansieer van die EFFSC UP se rasse-insident van 26 September.

AfriForum Jeug nooi almal uit om hul petisie te steun by www.skorseff.co.za.