NWU-Skorsing

Shaun Christie: Aansoek om regsverteenwoordiging toegestaan, verhoor uitgestel

Shaun Christie, die senior student van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat vroeër vandeesmaand tydelik geskors is na aanleiding van sy openbare beswaar oor die inhoud van ’n sessie by ’n oriënteringsgeleentheid, se versoek om regsverteenwoordiging in sy dissiplinêre verhoor, is vandag toegestaan. AfriForum Jeug se regspan staan Christie by in die saak en sal hom nou ook tydens die verhoor verteenwoordig.

Die verhoor is vanoggend afgeskop, maar is weens die goedkeuring vir regsverteenwoordiging en die kompleksiteit van die saak uitgestel tot Dinsdag 12 Maart.

Volgens Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder, is AfriForum Jeug tevrede met die goedkeuring wat vandag gegee is. “Vandag se verrigtinge was beperk tot hierdie belangrike versoek, maar noudat dit toegestaan is, kan ons help toesien dat Christie se regte tydens hierdie proses optimaal beskerm word,” meen Peters.