
Net lippediens? UV moet daad by die woord voeg ná taalherrie – AfriForum Jeug
AfriForum Jeug het ’n brief aan die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en sy adjunkvisekanselier, prof. Anthea Rhoda, gestuur waarin die jeugorganisasie eis dat dié universiteit die daad by die woord voeg deur duidelikheid en deursigtigheid te bied oor sy verbintenis tot veeltaligheid.
AfriForum Jeug het dit as ’n ernstige terugslag vir meertaligheid en moedertaalonderrig beskou toe ’n e-pos van die adjunkvisekanselier die ronde gedoen het waarin sy opdrag gegee het om Afrikaanse onderrig in alle modules, buiten in die vak Afrikaans, te staak.
Hoewel die UV se jongste verbintenis tot veeltaligheid verwelkom word, eis AfriForum Jeug nietemin dat die universiteit in praktyk wys hoe inheemse tale en spesifiek Afrikaans, op kampus bevorder word. Daar is onder meer versoek:
- Dat die UV jaarliks verslag doen oor die bevordering van al vyf tale (Afrikaans, Suid-Sotho, Suid-Afrikaanse Gebaretaal, Zoeloe en Engels) op sy kampus, met spesifieke aanduiding van die vordering rondom Afrikaans.
- Dat ’n onafhanklike taaloudit uitgevoer word om vas te stel of die UV se taalpraktyke ooreenstem met sy eie taalbeleid en grondwetlike verpligtinge.
- Dat die UV skriftelik aandui hoe Afrikaans bevorder gaan word binne die raamwerk van die UV se taalbeleid, met voorbeelde van praktiese ondersteuning vir studente en meetbare planne.
“Hierdie saak gaan oor meer as net taal – dit gaan oor regverdige toegang tot onderrig, kulturele inklusiwiteit en die UV se plig om grondwetlike regte te handhaaf,” sê Wikus van der Walt, jeugbeampte vir Strukture by AfriForum Jeug.
Die jeugorganisasie het intussen ook ’n formele gesprek oor die aangeleentheid met die UV en ander studenteverteenwoordigers versoek. Indien daar nie binne 14 werksdae terugvoer ontvang word nie, sal AfriForum Jeug verdere stappe oorweeg.
Ondersteun AfriForum Jeug in hierdie saak deur aan te sluit as ’n lid of om die petisie te onderteken om veeltaligheid by die UV te verseker.