|

Jonges veg vir húl toekoms: AfriForum Jeug eis optrede teen Rustenburg-wateronderbrekings

AfriForum Jeug se Rustenburg-tak het op 15 Junie ’n brief aan die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit oorhandig waarin dringende aandag geëis word aan die voortdurende wateronderbrekings in hierdie stad. Die tak ook ’n leë vyf liter-waterbottel saam met die brief aan die munisipaliteit oorhandig, wat inwoners se daaglikse stryd met watertekorte simboliseer en die dringende behoefte aan oplossings beklemtoon.

Hierdie brief vorm deel van AfriForum Jeug se Laat die jeug dit nou maar reguit sê-veldtog tydens Jeugmaand (Junie), wat veral jongmense aanmoedig om hul stemme te laat hoor oor uitdagings wat hul toekoms en daaglikse lewens beïnvloed. Hierdie veldtog bied ook aan inwoners die geleentheid om hul ondersteuning vir plaaslike kwessies te wys en verantwoordbaarheid van openbare verteenwoordigers te eis.

“Te veel mense het aanvaar dat verval normaal is en begin glo dat wateronderbrekings, riool wat deur strate vloei en paaie vol slaggate bloot deel van die land se werklikheid is. Die vraag is egter: Wat doen ons as jeug? Te midde van hierdie werklikheid kies AfriForum Jeug om op te tree. Vanjaar kies ons as jongmense om die toekoms – waarop ons geregtig is – vandag al op te eis en te help bou aan ’n nuwe werklikheid. Deur die loop van Jeugmaand gaan AfriForum Jeug-takke hierdie toekoms opeis en aandring op terugvoer, aanspreeklikheid en duidelike aksieplanne van munisipaliteite waar verval hierdie toekoms bedreig,” sê Tania Scheepers, ’n beampte vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug se brief aan adv. Ashmar Khuduge, die munisipale bestuurder, volg op toenemende frustrasie onder gemeenskapslede wat gereeld sonder water is. Hulle ontvang ook dikwels min of geen kommunikasie rakende die oorsaak van die wateronderbrekings of wanneer die toevoer herstel sal word nie. Hierdie situasie plaas huishoudings, ondernemings en ander instellings onder druk en beïnvloed inwoners se daaglikse lewensgehalte.

In die brief versoek AfriForum Jeug terugvoer oor die huidige oorsake van die wateronderbrekings, die maatreëls wat reeds ingestel is om die uitdagings op te los, beplande ingrypings en tydlyne vir verbetering, asook beter kommunikasie met inwoners rakende onderbrekings, herstelwerk en vordering. Die organisasie vra ook vir besonderhede oor langtermynplanne om volhoubare en betroubare waterlewering in Rustenburg te verseker.

“Water is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese diens waarop elke inwoner geregtig is. Gemeenskappe kan nie voortdurend in onsekerheid leef oor wanneer water beskikbaar gaan wees nie. Ons versoek die munisipaliteit om duidelike antwoorde te verskaf en daadwerklik op te tree om hierdie uitdagings die hoof te bied,” sê Jenedri Ferreira, ondervoorsitter van AfriForum Jeug se Rustenburg-tak.

AfriForum Jeug se Rustenburg-tak doen ’n beroep op inwoners om die petisie ter ondersteuning van hierdie versoek te onderteken en sodoende hul stem by dié van die gemeenskap te voeg. Elke handtekening versterk die boodskap dat Rustenburg-inwoners betroubare waterlewering, beter kommunikasie en volhoubare oplossings verwag.

Die organisasie verwag binne 14 dae terugvoer op die skrywe en sal die proses noukeurig moniteer om te verseker dat die gemeenskap se bekommernisse gehoor en opgelos word.