|

Jeugdag 2026: Laat die jeug dit nou maar reguit sê

Deur Tania Scheepers, junior jeugbeampte by AfriForum Jeug

Op 16 Junie 1976 het ’n groep jongmense geweier om stil te bly vir dit waarin hulle glo. Vandag, vyftig jaar later, vier die land byna blindelings Jeugdag, terwyl die huidige geslag jongmense steeds voor reuseuitdagings staan wat hul toekoms bedreig. Die omstandighede het dalk verander, maar die jeug se behoefte om op te staan en gehoor te word, het nie.

Ons leef in ’n tyd waar vervallende infrastruktuur, watertekorte, rioolprobleme, slaggate, misdaad, werkloosheid en swak dienslewering deel van die alledaagse lewe geword het. Dit is waaroor gesprekke wat by braaivleisvure gevoer word, wat in WhatsApp-groepe bespreek word en wat langs die sportveld gehoor word.

Te veel mense het aanvaar dat verval normaal is. Te veel mense het begin glo dat wateronderbrekings, riool wat deur strate vloei en paaie vol slaggate bloot deel van die land se werklikheid is.

Die vraag is egter: Wat doen ons as jeug?

Te midde van hierdie werklikheid kies AfriForum Jeug om nie vanjaar Jeugdag te vier nie, maar om op te tree.

Vanjaar kies ons as jongmense om die toekoms – waarop ons geregtig is – vandag al op te eis en te help bou aan ’n nuwe werklikheid.

Deur die loop van Jeugmaand gaan AfriForum Jeug-takke hierdie toekoms opeis en aandring op terugvoer, aanspreeklikheid en duidelike aksieplanne van munisipaliteite waar verval hierdie toekoms bedreig.

AfriForum Jeug sal in Rustenburg die voortdurende waterkrisis pak. In Knysna sal die organisasie se tak toesien dat die ernstige rioolprobleme in dié munisipaliteit onder munisipale leiers se aandag gebring word. En in Vanderbijlpark sal jongmense antwoorde eis oor die haglike toestand van paaie en die toenemende aantal slaggate in dié stad.

Dit gaan nie oor politiek nie. Dit gaan oor verantwoordelikheid.

Artikel 152 van die Grondwet bepaal dat plaaslike regering verantwoordelik is vir die lewering van volhoubare dienslewering en die bevordering van ’n veilige en gesonde omgewing. Artikel 24 bepaal verder dat elke persoon die reg het op ’n omgewing wat nie skadelik vir sy of haar gesondheid of welstand is nie.

Wanneer inwoners dae lank sonder water sit, riool deur woonbuurte vloei en infrastruktuur stelselmatig verval, word hierdie regte geskend.

Dit gaan nie net oor dienslewering nie; dit gaan ook oor mense se waardigheid, veiligheid en toekoms – waardigheid, veiligheid en ’n toekoms wat ons moet opeis en bewaar vir die volgende generasie.

Waardigheid, veiligheid en ’n beter toekoms gaan egter nie net in ons skote val nie. Dit vereis verandering, en verandering kom slegs wanneer gewone mense verantwoordelikheid vir hul gemeenskappe neem, hul stem laat hoor en bereid is om op te tree.

Die jeug van 2026 moet vandag nog besluit. Gaan ons aanhou kla oor die probleme rondom ons, of gaan ons deel wees van die oplossing? Gaan ons aanhou sê dat niemand luister nie, of gaan ons ons stemme só hard laat hoor dat dit nie geïgnoreer kán word nie?

Ek kies om deel van die oplossing te wees en my stem sál nie geïgnoreer word nie. Daarom is my uitnodiging eenvoudig: Ondersteun AfriForum Jeug se aksies hierdie Jeugmaand. Voeg jou stem by die petisie om munisipaliteite verantwoordelik te hou, en bevestig hierdie Jeugmaand dat jongmense nie bereid is om verval as normaal te aanvaar nie.

Laat die jeug dit nou maar reguit sê: Die tyd vir verskonings is verby. Die tyd vir verantwoordbaarheid is nou. Die tyd vir aksie is vandag.

#VegEnBou
#FeiteWen
#DieJeugVanVandag