
Groot pryse op die spel by AfriForum Jeug se Raakrugbydag
AfriForum Jeug hou op 15 Februarie ’n lekker Raakrugbydag by Middelvlei Wynplaas om die akademiese jaar op ’n hoë noot af te skop. Mans en vroue tussen die ouderdomme van 18-30 kan spanne inskryf en kragte meet om te bepaal wie met die R10 000 prysgeld gaan wegstap. Inskrywings is reeds oop en vir diegene wat nie raakrugby-fiks is nie, is daar ondersteunerskaartjies te koop – met ’n geesbeker prys van R2 000 op die spel. Dié dag word in samewerking met Studenteplein, Middelvlei Wynplaas, Stellies Blue Bottle Liquors en Nu’Bar aangebied.
Benewens die R10 000 wengeld is daar ook R8 000 vir die tweede plek, R5 000 vir die derde plek en R2 000 vir die span met die meeste gees. Daar is ook ’n R5 000 kontantprys vir die koshuis wat die meeste ondersteunerskaartjies verkoop. Toeskouers kan ook lekker pryse losslaan.
Die jeugorganisasie wil hierdie Raakrugbydag ’n jaarlikse instelling maak en sodoende ’n veilige bymekaarkomplek vir veral studente skep om pret te hê en heerlik saam met vriende en medestudente te kuier. In die gees van verantwoordelike, veilige joligheid het AfriForum Jeug ook pendeldienste wat tussen Victoriastraat en Middelvlei Wynplaas sal ry. Daar sal ook kostalletjies wees en ietsie vir ’n droë keel.
“Selfs by die Tuks-tak is ons opgewonder oor die Maties Raakrugbydag – die verwagting alleen is genoeg om enigeen opgewonde te maak. Van ons gaan selfs al die pad van Tukkies af kom om dié dag te beleef,” sê Maree van den Berg, voorsitter van AfriForum Jeug se Tuks-tak.
“Daar is ’n groot leemte onder die Maties-studente om sosiaal te verkeer in ’n veilige omgewing. Buiten Studenteplein is daar nie veel ander instansies wat studente se belange op die hart dra nie. Daarom het AfriForum Jeug besluit om in samewerking met ander rolspelers hierdie raakrugbydag te vestig. Die doel is om hierdie as ’n tradisie op kampus en onder die studente te vestig,” sê Yvonne Gerber, beampte vir jeug ontwikkeling by AfriForum Jeug.
Skryf jou span hier in of koop ’n kaartjie hier en deel in die feestelikheid van dié dag.