Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1
| DeurAfriForum

EFF weier wit studente toegang tot Tuks-kampus: AfriForum Jeug eis skorsing

AfriForum Jeug het vandag aanvullende bewyse aan die Universiteit van Pretoria (UP) gestuur om hul saak te versterk oor die eis dat die EFF Student Command van Tuks (EFFSC UP) as ’n studentevereniging gederegistreer moet word. Die EFFSC UP is sedert 26 September besig met gewelddadige betogings op die kampus, asook om studente te intimideer en te verhoed om die kampus binne te kom as hulle nie swart is nie. Dit volg ná die EFFSC UP se studenteraad-kandidate (SR) geskors is.

Beeldmateriaal van hierdie betogings word wyd op sosiale media versprei. In een video hoor en sien die kykers duidelik hoe EFFSC UP-lede vir studente toegang tot kampus weier deur te sê, “only black students”. AfriForum Jeug het hierdie video ook aan die UP-bestuur gestuur en eis opnuut dat die UP gehoor gee aan die jeugorganisasie se versoek dat die EFFSC UP gederegistreer moet word omdat hulle openlik rassisties en gewelddadig is. AfriForum Jeug het ook verlede week ’n skrywe aan die UP gerig om te vra hoe dié universiteit studente se veiligheid gaan verseker ná die EFF gedreig het met protesaksie.

Die UP het tot op hede versuim om te reageer op AfriForum Jeug se klagtes en dit blyk dus dat die UP die EFFSC UP se rassisme goedkeur.

“Tukkies-studente stuur deurlopend vir ons video’s van insidente waar die EFF Student Command ander studente intimideer en hulself skuldig maak aan ʼn gewelddadige betoging wat met rassisme en ontwrigting gepaardgaan. Die universiteitsbestuur moet ingryp en die EFF Student Command as studentevereniging deregistreer,”  sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Teken AfriForum Jeug se petisie om jou stem by hierdie saak te voeg.