| DeurAfriForum

AfriForum Jeug vat die HPCSA aan oor uitstaande sertifikate

AfriForum Jeug se regspan het op 23 Mei 2022 ’n prokureursbrief aan die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) gestuur om te eis dat Anneray Richards, ’n afgestudeerde mediese fisikus, se uitstaande sertifikaat met die nodige registrasienommer as ’n onafhanklike praktiseerder uitgereik word. Dit is die begin van AfriForum Jeug se regsaksie om te verseker dat hierdie uitstaande sertifikate nie verder ’n stokkie voor jongmense se loopbane steek nie.

Die sertifikate van die raad gee aan individue die magtiging om in mediese professies te praktiseer. Die raad se agterstallige administrasie verhoed jongmense om te begin werk en daarom gaan AfriForum Jeug dit beveg namens diegene wat benadeel word. Jong gegradueerdes wat in hierdie situasie gedompel is, word aangemoedig om deel te word van die groep wat AfriForum Jeug bystaan deur die nodige velde in te vul by https://afriforumjeug.co.za/skrik-wakker-hpcsa/.

Die raad het nie genoeg eksaminators aangestel om die portefeuljes van aansoeke goed te keur nie en daar is nou ’n groot agterstand wat verskeie afgestudeerde individue verhoed om te begin werk en ’n inkomste te kan verdien. Hierdie portefeuljes, wat alle projekte, navorsing en eksamens van rotasies tydens die internskap insluit, is in die verlede binne 14 tot 28 werksdae deur die raad afgehandel. Vanjaar is egter die eerste jaar waar individue ’n aanlyn aansoekproses moet volg en dit het veroorsaak dat Richards byvoorbeeld reeds meer as twee maande vir haar sertifikaat wag.

“Dit is ontstellend dat ’n sogenaamde ‘professionele liggaam’ so onprofessioneel optree dat dit die gekwalifiseerde mense wat hulle verteenwoordig se loopbane bedreig. Die jeugwerkloosheidsyfer in Suid-Afrika is ’n verstommende 64% en daarom sal AfriForum Jeug jongmense bystaan om hul sertifikate te kry om met hul loopbane te kan begin,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.