jonas-leupe-WargGLQW_Yk-unsplash
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug ontbloot oneerlikheid tydens eksamens by UNISA

AfriForum Jeug het vandag vrae aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) gestel om te bepaal watter stappe UNISA al geneem het of gaan neem om akademiese oneerlikheid by die instelling stop te sit. Dit volg nadat AfriForum Jeug deur ’n student genader is oor verdagte teksboodskappe wat UNISA-studente ontvang waarin regstreekse “eksamenhulp” en ’n waarborg van 90% of hoër uitslae, teen betaling, aangebied word.

Die jeugorganisasie het ’n video en ’n brief aan UNISA gestuur waarin akademiese ongerymdhede by hierdie instelling ontbloot word. AfriForum Jeug neem sterk standpunt in en is van mening dat sulke optrede sowel UNISA se integriteit as die integriteit van UNISA-studente en die gehalte van kwalifikasies in gedrang bring.

In die brief versoek AfriForum Jeug dat die universiteit duidelikheid verskaf of hulle bewus is van sulke akademiese ongerymdhede en of hulle reeds enige stappe geneem het om dit te bekamp. AfriForum Jeug is verder besorg oor moontlike oortredings van die POPI-wetgewing aangesien die bron van die verdagte boodskappe telkens geweet het vir watter vakke die betrokke student geregistreer is en wat die datums is waarop sy eksamens plaasvind. UNISA het boonop tot op hede versuim om op die student se eie navrae hieroor te reageer.

“AfriForum Jeug moedig jongmense aan om eienaarskap van hulle eie toekoms te neem en daarom is dit kommerwekkend dat eerlike UNISA-studente te na gekom word wanneer die integriteit van hierdie instelling se studente en die gehalte van hulle kwalifikasies betwyfel word,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.