No whites allowed

AfriForum Jeug ontbloot dubbele standaarde by Tuks met protesplakkers wat vurige debat ontlok

AfriForum Jeug het vanoggend by die ingange van die Universiteit van Pretoria (UP) se kampus in Hatfield plakkers geplak wat die kollig plaas op rasse-uitsluiting en die universiteit se dubbele standaarde. Dié protesaksie volg nadat EFF-lede op 27 September wit studente verhinder het om toegang tot die kampus te kry. EFF-lede het tydens daardie voorval onder meer uitgeroep: “Only black students!” AfriForum Jeug het reeds verskeie briewe aan die universiteit gerig waarin die deregistrasie van die EFF Student Command (EFFSC UP) as studentevereniging geëis word. Die universiteit het eenvoudig geweier om daarop te reageer.

Die doodse stilte waarmee UP die briewe begroet het, het gefrustreerde AfriForum Jeug-lede genoop om ’n nuwe benadering te volg om antwoorde uit die universiteit te kry. Die plakkers is vanoggend (9 Oktober) vroeg by die ingange van die Hatfield-kampus opgeplak. ’n Reusedebat is binne enkele ure hieroor ontketen. Die plakkers lui: “Blacks only” en “No whites allowed.”

Universiteitsbestuur het vinnig gereageer, die optrede veroordeel en met dissiplinêre stappe teen die persone wat die plakkers opgesit het, gedreig. Dis skokkend dat die universiteit so blitsvinnig en heftig reageer op ’n protesaskie teen rasse-uitsluiting op hul kampus, terwyl diegene wat hul skuldig gemaak het aan werklike rasse-uitsluiting geen gevolge vir hul aksies dra nie.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, sê die kontras tussen dié twee voorvalle spreek boekdele. “AfriForum Jeug sal aanhou druk toepas om toe te sien dat die EFFSC UP gederegistreer word en die oortreders van daardie voorval verantwoordelik gehou word vir hul optrede, aangesien die universiteit nou bewys het dat hulle wel in staat is om vinnig te reageer,” sê Boshoff.

“Studente word op die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus geïntimideer en op grond van hul ras uitgesluit deur die EFF Student Command UP. Intussen was die universiteit hul hande in onskuld, maar wanneer daar protesaksie gedoen word wat hierdie gedrag uitlig, neem Tukkies blitsvinnig aksie en dreig met dissiplinêre stappe. Dié optrede is hoogs verdag,” sluit Boshoff af.

AfriForum Jeug nooi almal uit om hul petisie te steun by www.skorseff.co.za.