| DeurAfriForum

AfriForum Jeug neem volgende regstap teen HPCSA

AfriForum Jeug het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) gestuur om te bepaal hoe lank die entiteit nou al sloer met die uitreik van sertifikate vir mediese praktisyns. In die prokureursbrief versoek AfriForum Jeug die statistiek van hoe lank die HPCSA sedert 1 Januarie 2018 tot 1 Junie 2022 jaar geneem het met die aansoeke vir hierdie sertifikate. Die organisasie wil daardeur vasstel hoeveel jongmense se loopbane as gevolg van die raad se agterstallige werk gestrem is sodat moontlike verdere regsaksie beplan kan word.

AfriForum Jeug het reeds op 23 Mei 2022 namens ’n afgestudeerde mediese fisikus ’n prokureursbrief aan die raad gestuur om te eis dat haar uitstaande sertifikaat met die nodige registrasienommer, wat sy benodig om as ’n onafhanklike praktiseerder te begin werk, uitgereik word. Die student het uiteindelik op 2 Junie 2022 haar sertifikaat ontvang nadat AfriForum Jeug druk op die HPCSA geplaas het, terwyl ander studente in dieselfde situasie hul stem by AfriForum Jeug se petisie gevoeg het.

“Ons jongmense se loopbane behoort nie deur ’n nasionale raad gestrem te word nie. Ons hoop om spoedig terugvoer te ontvang sodat AfriForum Jeug kan besin oor moontlike verdere stappe om te verseker dat afgestudeerde jongmense sonder verhindering hulle mede-landsburgers in hul onderskeie mediese professies kan begin dien,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.