Die_skip_University_of_pretoria-1-scaled
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug kap UP oor apatie rondom EFFSC UP se aanhitsing tot geweld en haatspraak

AfriForum Jeug veroordeel die Universiteit van Pretoria (UP) se versuim om op te tree teen die EFF Student Command (EFFSC UP), ’n geregistreerde studentevereniging, wat hulself aan haatspraak skuldig maak. AfriForum Jeug het op 19 April ’n brief aan prof. Caroline Nicholson, registrateur van die UP, gestuur om te eis dat daar opgetree moet word teen die EFFSC UP. Die brief het verdoemende bewyse gelewer van ’n brief waarin die EFFSC UP ander studente op kampus dreig met woorde wat volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekomissie (SAMRK) aanhitsing van geweld en haatspraak is. Nogtans het UP versuim om op enige manier op te tree.

Die EFFSC UP het gal gebraak nadat die bestuur van studenteverblyf in die Hatfield Square regulasies in plek gestel het om te verseker dat mans en dames privaatheid kan geniet tydens die gebruik van badkamergeriewe. Hulle het dit in ’n rassekwessie verander deur “rassistiese wit meisies van Erika” te blameer vir die “kriminalisering van swart mans” wat saam met hulle in dieselfde gebou bly. Die EFFSC UP het, bo en behalwe verskeie rassistiese stellings, die omstrede uitlating – wat Malema weereens in die hof laat beland, op 12 Maart as dreigement in ’n e-pos aangehaal: “I am not scared of killing. A revolutionary is a walking killing machine. If a need arises, I will kill, especially in defence of my people.”

“Dit is onaanvaarbaar dat die Universiteit van Pretoria versuim om op te tree teen studente wat hul skuldig maak aan haatspraak en die veiligheid van ander studente in gedrang stel. Daar is duidelike dubbele standaarde wat by universiteite gehandhaaf word. Daar moet streng opgetree word teen enige student wat geweld aanhits en die universiteitsbestuur moet hulle verantwoordelikheid nakom om die veiligheid van alle studente te verseker en hierdie tipe oortredings met die nodige erns aan te pak,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Julius Malema, leier van die EFF, gaan op 26 Februarie 2024 vir dieselfde uitlating in die Gelykheidshof teen die SAMRK te staan kom oor die aanhitsing van geweld en haatspraak tydens sy toespraak in die Wes-Kaap op 16 Oktober 2022.

AfriForum Jeug het in Junie, nadat hulle Tuks-lede se bekommernisse oor hierdie saak ongehoord gegaan het, ’n petisie geloods wat tot gevolg gehad het dat daar verskeie klagtes van studente na die UP-registrateur se e-posadres gestuur is. Daarna is dié jeugorganisasie in kennis gestel dat die registrateur se kantoor hierdie saak reeds in April na die Transformasie Kantoor verwys het om ondersoek te word.

“Daar is ’n doodse stilte van die UP, alhoewel AfriForum Jeug amper vyf maande gelede gevra het hoe daar teen die EFFSC opgetree is, asook dat die EFFSC UP as studentevereniging gederegistreer moet word. Die voor-die-hand-liggende gevolgtrekking is dus dat die UP apaties is oor haatspraak wat spesifiek deur die EFFSC gepleeg word,” sluit Van der Vyver af.

AfriForum Jeug moedig alle Tukkies-studente aan om sy petisie te teken wat eis dat die universiteit die EFFSC UP as ’n studentevereniging deregistreer en dat die skuldiges die gevolge dra vir hulle haatspraak: Ek eis optrede teen die EFFSC wat haatspraak-uitlatings maak. – AfriForum Jeug.