NWU-Pukke-2
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis dringende opskorting van SR-verkiesings by NWU te midde van kommer oor onreëlmatighede met stemme/stemmery

AfriForum Jeug het ’n formele versoek aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vir studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) gerig om die Potchefstroomkampus-studenteraad (KSR) se verkiesing onmiddellik op te skort. Die jeugorganisasie het hul kommer oor die integriteit van die huidige stemproses uitgespreek en die OVK versoek om ’n regverdige en beheerde verkiesing te verseker voordat die proses voortgaan.

Die jeugorganisasie se grootste kommer spruit uit die onthulling dat studente van verskillende kampusse vir die Potchefstroom-kampus se KSR stem, dit kan moontlik die akkuraatheid en regverdigheid van die verkiesings in gedrang bring. Adrienne Krause, koördineerder van jeugontwikkeling by AfriForum, het verduidelik dat die OVK voorheen hierdie kwessie erken het en beloof het om strafmaatreëls in te stel teen studente wat betrokke is by hierdie tipe oor-kampus stemmery.  “AfriForum Jeug bevraagteken hoe die OVK die geldigheid van elke stem kan verseker en waarborg dat stemme aan hul onderskeie kampusse toegeskryf word,” sê Krause.

“AfriForum Jeug eis die onmiddellike opskorting van die stemproses. Ons dring daarop aan om omvattende kommunikasie te ontvang oor die uitdagings wat tot dusver teëgekom is. Stemming moet opgeskort bly totdat ’n betroubare stemplatform gevestig is, wat die noukeurige verifikasie van hoe elke stem met die betrokke kampus ooreenstem insluit. Ons beklemtoon dat die stemproses met die grootste regverdigheid en deursigtigheid uitgevoer moet word,” voeg Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug by.

AfriForum Jeug is daartoe verbind om die regte en belange van studente in Suid-Afrika te beskerm. Deur voorspraak te maak en betrokke te wees poog die organisasie om ’n regverdige omgewing vir die jeug in opvoedkundige instellings te verseker.