Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis dat UP die EFFSC deregistreer en hul SR-kandidate skors

AfriForum Jeug is bewus van die onverskoonbare wyse waarop die EFF Student Command (EFFSC) aan die Universiteit van Pretoria (UP) optree vandat die stemproses vir die studenteraadverkiesing (SR) op 5 September begin het. Die jeugorganisasie eis in ’n dringende brief aan die UP dat die EFFSC UP gederegistreer word as ’n studentevereniging en dat hul SR-kandidate geskors word. 

AfriForum Jeug het ook vandag privaat sekuriteit ontplooi om die studente wat onveilig voel te beskerm. Die EFFSC UP het hulself skuldig gemaak aan intimidasie, aanhitsing tot geweld, die ontwrigting van studieverantwoordelikhede en die aanvuring van rassespanning.

“Studente wat onveilig voel het AfriForum Jeug om hulp genader ná die EFFSC UP gisteraand tot middernag op ’n luidrugtige wyse buite dameskoshuise stemme probeer werf het. Hulle het met voertuie en luidsprekers op en af in die strate gery en selfs ‘Kill the Boer’ gesing,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug neem erns met die deurlopende gevalle van intimidasie, veral wanneer dit die veiligheid van studente in gedrang stel. Die jeugorganisasie het vanjaar al verskeie kere  ’n beroep op die UP gedoen om op te tree teen soortgelyke optrede van die EFFSC UP. “Die UP versuim steeds om op te tree, terwyl die enigste reaksie wat AfriForum Jeug van hulle ontvang het ’n telefoniese oproep van ’n bestuurslid is wat beweer dat die EFFSC UP nie ’n geregistreerde studentevereniging is nie. Die universiteit se webblad bevestig egter dat die EFFSC UP wel ’n geregistreerde studentevereniging is,” voeg Van der Vyver by. 

“AfriForum Jeug verwag spoedige, skriftelike terugvoer van die UP met voldoende planne om dissiplinêr op te tree en gehoor te gee aan ons eise. Intussen word daar ’n petisie van stapel gestuur om te verseker dat die stem van studente wat onveilig voel as gevolg van die EFFSC UP se optrede, gehoor word,” sluit Van der Vyver af.

AfriForum Jeug moedig alle Tukkies-studente aan om die petisie hier te onderteken.