NWU-Pukke-2
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis antwoorde oor Afrikaans se toekoms op die PUK

AfriForum Jeug het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus (PUK) gerig om vas te stel wat die toekoms van Afrikaans op die PUK is. Die jeugorganisasie vra vir spesifieke inligting rakende die taal-, toelatingsbeleid en die gebruik van Afrikaans op dié kampus.

Die jeugorganisasie wil deur middel van die PAIA-aansoek voornemende studente en donateurs met akkurate inligting oor die gebruik van Afrikaans op kampus toerus, sodat hulle ’n objektiewe besluit kan neem oor waar hulle wil studeer of geld wil skenk.

“Afrikaanse studente se geld is goed genoeg, maar hulle taal word onder die dekmantel van transformasie uitgewerk. Indien ons nie kan swot en ons studentelewe in Afrikaans kan uitleef nie wil ons dit weet sodat ons objektief kan besluit en nie onder ’n wanpersepsie na die PUK gelok word nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Dít volg na die uitlatings van dr. Bismark Tyobeka, visekanselier van die NWU, oor die erns van die PUK om Afrikaans op kampus te behou terwyl daar egter ’n sterk transformasie-agenda gedryf word. “Ons het gesien hoe universiteite reg oor die land onder die dekmantel van transformasie verengels,” sê Van der Vyver.

AfriForum Jeug eis in die PAIA-aansoek antwoorde oor onder meer wat die toelatingsbeleid van kampuskoshuise met betrekking tot ras en taal is, watter persentasie van dosente wat sedert 2020 aangestel is Afrikaans magtig is, en watter persentasie van klasse word in Afrikaans aangebied.

“Indien die PUK se transformasie-agenda ten koste van ’n toekoms vir Afrikaans op kampus gedryf word, het studente, alumni en donateurs die reg om dit te weet. Die antwoorde op ons PAIA-aansoek sal deurslaggewend wees,” sluit Van der Vyver af.

Teken die petisie hier as jy wil hê die Puk moet Afrikaans bly.