thought-catalog-UK78i6vK3sc-unsplash
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug dreig met regstappe as Vrystaatse regering nie beloofde beurs aan topstudent uitbetaal nie

AfriForum Jeug het vandag ’n prokureursbrief aan die Vrystaatse provinsiale beurskantoor gestuur om te eis dat die beloofde beurs aan Maryke Du Pisanie, een van die Vrystaat se top-100-matrieks van 2021, uitbetaal word.

Du Pisanie het telkemale die kantoor gekontak om haar beursbrief of uitbetaling te ontvang, maar geen reaksie gekry nie. Die Universiteit van die Vrystaat, waar Du Pisanie nou Fisioterapie studeer, het intussen bevestig dat haar naam nie op die lys van die beursontvangers verskyn nie. Dit terwyl die Vrystaatse Premier, Sisi Ntombela, spog met die feit dat elke top-100-matriek ’n volle beurs van die Vrystaatse regering ontvang.

“Ons jongmense is gereeld die slagoffers van onregverdigheid met betrekking tot beurse en AfriForum Jeug sal dit nooit aanvaar nie. Ongeag of hierdie onreg plaasgevind het as gevolg van rasse- en ander kriteria, of bloot as gevolg van wanadministrasie, dit bly onaanvaarbaar,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Du Pisanie en haar ouers ervaar geweldige druk van die universiteit om haar studiegelde te betaal hoewel sy hard gewerk het om dié gesogte beurs te ontvang. Boonop spandeer Du Pisanie geweldig baie tyd daaraan om die beurskantoor te kontak vir terugvoer terwyl sy eerder tyd kon spandeer aan haar akademiese verantwoordelikhede.

AfriForum Jeug het reeds ’n ander student, wat in dieselfde posisie as Du Pisanie was, suksesvol bygestaan en hy kan nou sy mediese studies by die Universiteit van die Vrystaat voortsit met die beurs wat hy regmatig ontvang het.

AfriForum Jeug nooi ander studente, wat in dieselfde posisie is, uit om die organisasie om hulp te nader by rene.vandervyver@afriforum.co.za.